1 Johannes 4:7: “Geliefdes, ons moet mekaar liefhê,
want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ‘n
kind van God en ken God.” Jy skuld ander mense niks,
behalwe liefde. Net as jy dink dit is so eenvoudig, besef
jy hoe baie dit vra. Maar die wonderlike is: Dit is God se
geopenbaarde wil dat jy liefde skuld. Met ander woorde,
Hy maak dit vir jou moontlik om dit te doen as jy gehoorsaam
en in oorgawe aan Hom leef! Paulus skryf in Romeine 13:8 dat
jy jou skuld moet betaal: “Julle moet niemand iets verskuldig
wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet,
voer die hele wet van God uit.” Jy moet niks aan ander mense
skuld nie, behalwe om vol liefde teenoor hulle te wees. As jy
jou medemens liefhet, het jy die wet van God nagekom.

Moenie ander mense ooit as gerieflike emosionele krukke gebruik nie.
Moet ook nie toelaat dat mense op jóú steun, in plaas van op God nie.
Natuurlik moet jy mense hulle laste help dra. Maar dan moet hulle laste
op jou skouers rus sodat hulle ‘n beter uitsig op God het! Jy dra ander se
laste ten einde ‘n vertoonvenster van God se liefde vir hulle te wees.
Hulle moet ervaar dat dit God is wat hulle dra, en nie jý nie. Fokus hulle
op God en hul afhanklikheid van Hom, nie van jou nie. Jy moet dit juis
so doen dat jy nie hulle negatiewe gedragspatrone versterk nie.

Christelike liefde is nie humanisties nie. Met ander woorde, dit smeer
nie sondes of tekortkominge, soos “hang ups”, toe nie. Ware liefde maak
nie maar of alles reg is nie. Paulus sê duidelik in 1 Korintiërs 13:6-7 liefde
het ook grense. Liefde kan nooit kant kies vir dinge wat verkeerd is nie.
Net so sal liefde altyd net bly wees oor dit wat regtig gebeur soos God
dit bedoel het. Liefde beskerm waar mense beskerming nodig het;
liefde glo altyd die beste van ander mense en verwag dit ook van hulle.
Liefde ken ook geen einde nie.

Behandel mense met liefde en respek. Moenie dat hulle slawe van jou
word nie. Ons moet ook nie slawe van ander mense word nie. Ware liefde
laat ander mense op jóú skouers staan om God beter te kan sien. Hou op
skuldig voel. Christus het klaar al jou skuld betaal! Jy skuld net liefde!
Aan die Here en aan ander mense. Dit is God se wil dat jy sy liefde aan
ander mense verskuldig is, en dit daagliks “betaal”. Hy help jou daarmee!

Ernest