Markus 1:15: “Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek,
en die koninkryk van God het naby gekom.” Bekeer julle
en glo die evangelie.” Jesus het God se koninkryk na ons toe
gebring. Sy nuwe wêreld waar “sjalom”, sy vrede, heers. Die kerk
is ‘n belangrike sigbare bewys van God se koninkryk, maar die kerk
is nooit ‘n doel opsigself nie. Die kerk van Christus staan altyd in
diens van die koninkryk van God.

Volgens Jesus geskied toegang tot die koninkryk van God deur
bekering. Bekering word dikwels afgewater tot een of ander morele
gedragsaanpassing. Die woord “metanoia” (bekering) is vir Jesus baie
meer as ‘n eenvoudige koersaanpassing. Bekering is veral om daagliks,
orals, en tussen alle mense radikaal anders te leef in die lig van God se
nuwe ryk wat aangebreek het! Die koninkryk van God, soos wat Jesus
dit bring tydens sy aardse optrede, ken nie ‘n eie godsdienstige wêreld
wat verwyderd van die “regte wêreld” voortbestaan met eie instellings,
organisasies en programme nie. Binne die koninkryk van God is almal
wat God ken voltyds aan diens in hierdie wêreld, as verteenwoordigers
van God!

In die koninkryk van God is elkeen wat Jesus navolg en in sy spore loop
in hierdie wêreld soos mosterdsaad en suurdeeg. Hier is almal voltydse
sendelinge! Alle kinders van God is voltydse sendelinge daar waar hulle
leef! Gestuurdes en diensknegte in God se koninkryk.

Die koninkryk van God, soos Jesus dit veral in sy gelykenisse voorstel,
gebeur verrassend, onvoorspelbaar, dikwels vreemd en skokkend! Dit
gebeur boonop vanself! Die koninkryk se saad groei vanself! Nie menslike
inspanning nie, maar Goddelike genade is die sleutel in die koninkryk
van God!

Bekeer jou! En glo die evangelie. En saai in God se koninkryk, daar waar
oeste van dertig-voudig, en sestig-voudig, en honderd-voudig gewaarborg
word deur God self!

Ernest