Die Griekse denker, Epiktetus,
het gesê dit is onmoontlik om mense iets te leer,
wat hulle dink hulle reeds weet.

Dit geld ook baie mense se verstaan van Jesus.
Hulle sien Hom eenvoudig net as hulle Redder.
Maar Hy is nie hulle Here nie.
Hulle benodig Hom net, met respek gesê, as Brandversekering.
Eendag as hulle doodgaan, sal hulle nie in die vuur beland nie.
So gee hulle hul harte vir die Here, maar hou hulle lewens terug.

Wanneer ek Christus se werk so inperk tot redding anderkant die dood,
dan dien ek Hom nie regtig as Here van my ganse lewe nie.
Dit is ‘n werklikheidsvreemde godsdiens.
Dit werk eenkant op ‘n Sondag,
en die res van die week leef ek volgens ander reëls oorkant die straat.
Jesus daag ons uit om alles wat vir ons saakmaak,
en alles wat vir die wêreld saakmaak,
in te ruil vir die voorreg van ‘n lewe saam met Hom!
Dan kry alles wat regtig vir my saakmaak,
in elk geval nuwe betekenis in Hom!
Dit is om aktief deel te wees van ‘n nuwe manier van lewe!

Jesus se dissipels is nie met ontsnappings-aksies uit die wêreld besig nie.
Hulle sien Hom ook nie as Brandversekering nie!
Hulle weet alte goed dat hulle nou reeds aktief besig is om te bou,
aan die nuwe hemel en die nuwe aarde.
Ons is inderdaad aktief aan diens in God se koninkryk.
Hier!
En nou!

Ernest