Genade in plaas van godsdiens

Ons kan so maklik verval in ‘n godsdiens van oordeel,
verdoemenis, en dreigemente.
As jy nie dit doen nie, gaan God dat doen.
Oorsaak en gevolg godsdiens.
Meer word gesê oor die verderf, as oor God se genade.
Ons word beter bemarkers van die vyand, as van God se liefde en genade.

Wat oorbly is ‘n God wat kwaad is.
Streng godsdienstige wette wat nagekom moet word.
Offers, gehoorsaamheid, ‘n goeie lewe om God se guns te wen.
Mense wat nooit weet of hulle dit “maak” nie.
Mense wat hel toe gaan.
Oordeel.

Die vraag word dikwels nog gevra:
“As jy vanaand sterf, waar gaan jy heen?”
Draai of braai….
God is die een wat jou gaan weeg en, heel waarskynlik,
te lig gaan bevind.

God is egter dié God van genade en liefde.
God steek nie die vuur aan nie, maar wil die vuur uitblus.
Hy stel oordeel uit.
Later stel Hy dit selfs af!
Vra maar vir Noag en Jona.
God ís genadig!
Ter wille van één oorblywende regverdige op die ganse aarde,
stel God die vernietiging van die hele wêreld af.
Een greintjie geloof in ‘n sondemoeras het tóé al ‘n verskil gemaak.

Murray Janson het gesê God boer met genade.
Hy laat groei vergifnis, vryspraak en nuwe beginne.
Leef God se liefde en genade uit,
eerder as die boodskap van oordeel en verderf.
Laat die oordeel aan God oor.
Christus het gekom om te soek en te red wie verlore is!

Ernest