DEEL MET MEKAAR LIEF EN LEED – vir voorbidding, danksegging en bemoediging.

FOKUS OP DIE TEENWOORDIGHEID VAN GOD – bid saam vir die byeenkoms.

LEES SAAM UIT DIE WOORD VAN GOD – aangesien die tema oor God Drie-Enig handel, lees ons
verskillende tekste wat daaroor iets sê: OOR GOD: Genesis 1:1, 1 Konings 8:23 en vers 27, en vers 28.
Jesaja 40:25,28-28. Jesaja 43:10-11,13. Romeine 9:20 en 11:33-36. OOR JESUS CHRISTUS DIE HERE:
Kolossense 1:15-20, Johannes 10:30, Lukas 19:10, Handelinge 4:12. Markus 8:29. Handelinge 9:22. OOR
DIE HEILIGE GEES: Genesis 1:2, Jesaja 40:13-14, Joël 2:28-29, Johannes 14:16-20, Johannes 16:7
en13-15, Handelinge 2:32-33, Romeine 8:16.

OORDINK EN GESELS SAAM – oor die ON-gelowiges se siening dat ons hierdie Drie-Enige God, Vader,
Seun en Heilige Gees, nie kan begryp nie, en nie kan bewys nie, en daarom nie in Hom kan glo nie.
GOD OPENBAAR HOM as God die Vader, God die Seun, en God die Heilige Gees. Dit is egter nie drie
Gode waarin ons glo nie. Dit is God self wat Hom so aan ons bekend stel. Ons mense sou Hom nooit so
uitgedink het nie. Ons moet die volgende waarhede glo soos God Homself aan ons voorstel:

Daar is net een God! Hierdie God openbaar Homself aan ons as drie Persone.
Al drie hierdie Persone is elkeen waarlik God.
Dit is een Wese maar drie Persone.
Die Een is nie die Ander nie.
Al drie vorm die een God.
Al drie is van alle ewigheid af God, en tot in ewigheid.
Al drie is gelyk in eer en aanbidding.
Al drie is tegelyk en ten volle die één en enigste God.

KYK NA DIE SKEMATIESE VOORSTELLING OP DIE AGTERBLAD:  Die Vader is God, die Seun is God,
en die Heilige Gees is God. Maar die Vader is nie die Seun nie, en die Seun is nie die Vader of die Heilige
Gees nie, en die Heilige Gees is ook nie die Vader of die Seun nie. In al hulle optrede is al drie Persone
betrokke, hoewel die skepping primêr die werk van die Vader is, verlossing dié van die Seun, en die
herskepping die van die Heilige Gees. Hierdie onbegryplike openbaring deur God, van Homself, sê vir ons
dat God ‘n wonderlike, onbegryplike, totaal andersoortige Wese is. In Hom kan ons en moet ons glo, en
Hom aanvaar soos Hy is. Ons moet ons hele lewe in aanbidding en bewondering aan Hom toevertrou.

GESELS SAAM oor die wonderlike God wat ons aanbid, en dat ons nie nodig het om Hom te bewys nie, of
te verstaan nie, maar eenvoudig in Hom kan glo, en vir Hom kan leef, omdat Hy ons in liefde geskep het,
verlos het, herskep het, en Self in ons kom woon het! BID NOU SAAM vir ‘n wêreld wat steeds nie in Hom
wil glo nie, en dat ons deur liefde en getuienis Hom in hierdie wêreld sal verteenwoordig, tot sý eer, en die
uitbreiding van sý koninkryk!

(LEES GERUS MEER OOR GOD DRIE-ENIG IN DIE BYBELLENNIUM, bladsye 1822 tot 1832)