Dit lê diep in ons harte om allerhande redes vir ons swaarkry op te diep.
Meer dikwels sien ons dit as een of ander vorm van straf van God se kant
af oor “iets” wat ons seker verkeerd gedoen het, selfs onbewustelik.
Of dit nou te doen het met droogte in ons land, of ongeneeslike siekte,
of wat ookal, “ons het iets verkeerds gedoen”. Party sal sê dit is omdat
ons nie meer ons volle tiende vir die kerk gee nie, of omdat ons nie meer
kerk toe gaan nie, of omdat ons stiltetyd tekort skiet... Die verstommende
is dat mense dan sommer direk bepaal hoe God werk. Hierdie oortreding
is gelyk aan daardie straf. Soos ‘n boekhou inskrywing.

Ons maak een baie groot fout in hierdie redenasies. Dit is die feit dat
Christus aan die kruis vir al God se kinders rééds een honderd persent
betaal het, vir al hulle skuld. Paulus stel dit baie sterk in 2 Kor. 5:21.
God het sy eie Seun aan die kruis as ‘n sondaar in ons plek behandel!
Jesus het daar vir al ons sonde betaal tot aan die einde van ons lewe.
Sonde is nie net ‘n klomp verkeerde dinge wat ons van tyd tot tyd doen
nie. Hierdie verkeerde dinge, wat ons so maklik opnoem, is die simptome
van iets veel dieper. Sonde is ‘n bose mag wat ons toewikkel en waaruit
ons onsself nie kan losdraai nie. Met sy sterwe en opstanding het Christus
hierdie bose mag se greep op ons eens en vir altyd kom breek. Ons is vir
altyd deur Christus met God versoen. Daarom roep Romeine 5:1 uit:
“God het ons dan nou vrygespreek omdat ons glo. Daarom is daar nou
vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus.” Romeine 8:1
beklemtoon dat die oordeel vergoed verby is vir kinders van God!

Nog meer: Kol. 2:14 sê dat die skuldbrief met al sy aanklagte teen ons
eens en vir altyd aan die kruishout vasgespyker is!
Die implikasies van dit wat God se Woord in bogenoemde tekste sê is
verreikend! “Ongelooflik”!! Dit sê dat God nie meer sy kinders vir hulle
sonde straf nie! Hy het ons almal kant en klaar gestraf toe Hy sy eie
Seun die vloek van die sonde aan die kruis laat dra het! Daar het God
se toorn oor ons sonde finaal vir sy kinders gebrand. Wanneer God
vandag na ons kyk, sien Hy ons deur die bloed van Christus waarin
ons finaal verlos is.

As dit nie waar is nie, is ons die hopeloosste van alle mense op aarde!
As God ons steeds moes straf, het Jesus se kruisdood jammerlik gefaal!
Dan het sy bloed nie ons rekening finaal gedelg nie. Dan sou ons weer
van voor af in ‘n werke godsdiens verval waarin ons ons eie verlossing
moet “verdien”. Dan is ons terug waar alle ongelowiges is... steeds onder
God se toorn.

God straf ons nie. Hebreërs 12:10 sê dat God ons tug. Hy straf ons nie
oor sonde van die verlede nie. Tugtiging gaan in die Hebreër brief oor
iets heel anders. Dit het te doen met God se handelinge om sy kinders
naby Hom te hou! Net soos ‘n aardse vader wat sy kinders met liefde
tug om hulle op die regte pad te hou, net so gebruik God swaarkry en
lyding om ons naby aan Ho te hou. Vers 10 noem dit “heiliging”.
Dit lei ons om ons vertroue alleen op God te stel.
Tugtiging trek ons na Jesus toe.

Ernest