"Die ander dissipels sê toe vir hom:
'Ons het die Here gesien!'
Maar hy (Thomas) het vir hulle gesê:
'As ek nie die merke sien van die spykers in sy hande,
en my vinger nie steek in die spykermerke,
en my hand nie in sy sy steek nie,
sal ek nooit glo nie'"
(Joh 20:25)

Ons is gou om Thomas "ongelowig" te noem,
maar dan vergeet ons dat al die ander dissipels met hulle eie oë vir Jesus gesien het.
Hulle het "bewyse" gehad,
en Thomas soek ook maar net bewyse.

Die Here verwag nie "redelose geloof" van ons nie,
in teendeel,
Hy sê keer-op-keer dat ons alles wat ons hoor op die proef moet stel (1Tess 5:21).

Twyfel is nie noodwendig sleg nie,
dit is juis wat geloof "opreg" maak.
As ons nie mag twyfel nie,
dan glo ons eintlik maar net omdat ons moet,
omdat ons bang is wat ander gaan sê,
omdat ons van kleins af geleer is dat twyfel sleg is.
Dan is ons verhouding met die Here nie vrywillig nie,
maar afgedwing.

God veroordeel ons nie vir ons twyfel nie.
Toe Petrus twyfel,
het die Here hom eenvoudig net weer opgehelp!
Toe Gideon twyfel,
het God vir hom een teken na die ander gestuur om hom te verseker.
Toe Thomas twyfel,
het die Here aan hom verskyn en vir hom "bewyse" gegee.

Dit is beter om te glo,
maar ons mag twyfel.
Ons hoef nie daaroor skuldig te voel nie.
Maar ons moet nie die fout maak om alleen met hierdie twyfel te worstel nie.
Soos met elke soort worsteling,
moet ons dit in gebed voor God se voete plaas.
Geloof is per slot van rekening
'n gawe van God!

Ashton.