"Gelukkig is die een
wie se oortreding vergewe
wie se sonde bedek is"
(Psalm 32:1)

Dawid dink aan al sy sonde,
al die kere wat hy iemand leed aangedoen het,
Batseba wat hy verkrag het,
haar man wat hy laat vermoor het,
die mense wat hy bedrieg het,
en die jongmanne wat hy gedwing het om namens hom oorlog te maak.

Dit eet hom op.
Die skuldgevoelens is erger as die sonde self!
Hy is meer kwaad vir homself,
as wat God vir hom is!

Uiteindelik kan hy dit nie meer uithou nie.
Hy bely al sy sondes voor die Here,
en Hy ontdek dat God hom lankal vergewe het.
Hy kry weer lewenskrag!

Soos Dawid, voel ons skaam oor ons eie oortredings.
Ons probeer dit dan ontken,
of wegsteek van die Here.
Asof Hy nie reeds alles weet nie!
Dan voel ons "onwaardig" om na die Here te gaan.
Ons wil nie nagmaal gebruik nie,
"want my saak is nie reg met die Here nie".

Wanneer ons ons sondes voor die kruis van Jesus kom neerlê,
moet ons dit daar los!
Ons moet glo dat Hy ons waarlik vergewe het,
anders beteken die kruis van Jesus niks!
Daarom bely ons elke Sondag ook ons sondes.

Die Here het ons vrygemaak van ons sonde,
laat Hy ons dan ook vrymaak van ons skuldgevoelens!

Ashton