"...maar julle onreg
het 'n skeiding geword
tussen julle en julle God.
En julle sonde maak dat Hy sy gesig wegsteek,
dat Hy nie kan hoor nie"
(Jes 59:2)

Die res van die hoofstuk verduidelik hoe die volk
onreg pleeg.
Omdat die volk die teenoorgestelde bereidwilligheid het,
as hulle God.
Hulle arm is te kort om te help,
hulle oor is te swaar om te hoor.

Sosiale geregtigheid word deesdae deur politikusse
rondgegooi om hulleself gewild te maak.
Volgens hierdie verstaan van geregtigheid,
is daar groepe wat teen mekaar 'n magstryd voer.
Geregtigheid is dan om in die onderdrukte se kant te wees,
teen die "magtige en bevoorregte".
Vroue se kant teen mans.
Swartmense se kant teen witmense
Armes mense se kant teen rykes
Die Palestyne se kant teen die Israelies.

Die probleem met hierdie soort geregtigheid,
is dat dit mense in groepe indeel,
en hul saak oordeel volgens menslike maatstawwe.

God, daarteenoor,
kyk nooit na 'n persoon se geslag, ras, nasionaliteit of status nie.
(Hand 10:34; Gal 3:28)

Goddelike geregtigheid, is om op te tree,
soos God sal optree.
Daarom begin Jes 59 met die woord "Kyk".
Kyk hoe lyk God se geregtigheid,
Hy is bereid om te help,
Hy is bereid om te hoor.
Kyk dan hoe tree julle op.
Kyk die groot skeiding tussen wie Hy is,
en wie julle is.

God se geregtigheid,
is 'n versorgende, barmhartige geregtigheid.
Dit is wanneer mense met mag,
doen wat Jesus sou doen met daardie mag.
Wanneer werkgewers hulle werkers goeie lone betaal,
en 'n aangename werksomgewing skep.
Wanneer uitleners skuld vergewe,
as mense dit nie kan betaal nie.
Wanneer slagoffer sy of haar kwaaddoener vergewe,
al het hulle onherstelbare skade gelei.

Geregtigheid,
is om vir ander te doen,
wat God vir jou doen.

Ashton