1.     LIEF EN LEED – deel lief en leed met mekaar.

2.     INGENOOI IN GOD SE RUS EN TYD – vind rus in Sy teenwoordigheid en bid saam.

3.     LUISTER NA GOD SE WOORD – lees Genesis 17:1-2; 7 – 11 ;19 en Galasiërs 3:26 – 29. Iemand in die groep kan dit hardop lees. God verskyn aan Abram, en sy naam word verander na Abraham, wat die vader van vele beteken. Ook Sarai se naam word verander na Sara, wat prinses beteken. Dit is ook in die gedeelte waar God sy belofte aan Abram/Abraham herbevestig. Bespreek hierdie kragtige verbond in julle groep.

 

4.     LUISTER NA MEKAAR EN DIE WêRELD – in hierdie gedeelte leer ons meer van die verbond wat God met Sy volk sluit. Ons kom onder die bewustheid van God se groot genade en hoe Hy te midde/ten spyte van ons ontrou steeds getrou bly en die verbond in stand hou. Om naby God te leef of om met Hom te wandel, soos dit ook vertaal kan word, is een van die wonderlikste werklikhede wat vir elkeen wat hom- of haarself ‘n gelowige noem beskikbaar is, soos Miga baie jare later sou sê: “wat vra die Here van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?” (Mig. 6:8). God se verbond met Abraham beloof hom nie net ‘n groot nageslag nie, maar ook ‘n uitgebreide grondgebied.

 

 Dit vra egter iets van Abraham, dat hy onberispelik teenoor God sal leef. Noag het die reënboog as teken van die verbond gekry, en Abraham kry die besnydenis as teken, as ‘n blywende herinnering aan die verbond. Die wonderlike waarheid van die Christendom is dat ons almal kinders van God deur geloof (SOLA FIDE) is. Daarvan is ons doop in Jesus Christus ‘n teken, maar ook ons lewe in Hom. Ons wat in Christus gedoop is, het Hom soos ‘n kleed aangetrek. Die doop is die seël van ons inlywing in die liggaam van Christus, maak nie saak op watter ouderdom ons gedoop is nie, en sodoende is ons lewe in Christus die inblywing in die liggaam van Christus.

5.     LUISTER NOU WEER NA GOD SE WOORD – kyk weer na die teksgedeelte, en gesels oor a) die verbond as ‘n verhouding tussen God en mens, b) die inhoud van die verbond en c) die doop en ons belewing van God se redding.

6.     FOKUS OP WAT GOD DOEN – weereens is die boodskap duidelik, in geloof is ons doop ons vereniging met Christus, die beëindiging van die ou lewe en ons opstanding in ‘n Christus lewe, ‘n verbondslewe met Christus.

7.     ANTWOORD MET ONS LEWE – soos die verbond iets van Abraham gevra het, vra die doop ook iets van ons, dit vra dat ons elke dag sal leef as verbondskind.

8.     BID NOU SAAM – gee geleentheid vir ‘n paar gebede uit jou groep. Bid veral vir die steeds droogte gesteisterde gebiede. En bid vir ouers wat hulle kinders op grond van God se verbond in sy Naam moet grooetmaak!