1. LIEF EN LEED- deel met mekaar jul lief en leed vir ondersteuning en voorbidding.
2. INGENOOI IN GOD SE RUS EN TYD- lees LUKAS 10:38-42 rustig op jou eie deur. Raak nou rustig in God se teenwoordigheid. Is jy ook soos Marta besorg oor baie dinge? Kom sit nou soos Maria by Jesus se voete. Wat sou jy nou van Hom wou vra? Wat wil jy by sy voete neersit? Wat sou jy nou van Hom wou leer? Praat met Hom oor wat jou dikwels verhinder om “by sy voete” uit te kom.
3. LUISTER NA GOD SE WOORD- lees nou weer in die groep saam LUKAS 10:38-42. Deel met mekaar wat jou getref het. Bespreek nou wat julle tref ten opsigte van die volgende opmerkings: Marta ontvang Jesus as gas. Daarom beskou sy haarself as in beheer. Sy sal gee en Hy moet as gas ontvang. Daar is niks met haar gasvryheid verkeerd nie. Sy lees egter die tyd en Jesus se prioriteite verkeerd. Maria, daarteenoor, “het aan die voete van Jesus gaan sit en na sy woorde geluister.” Sy sien Jesus as in beheer. Hy sou gee en sy sou ontvang! Marta is “baie bedrywig.” Dit is nie verkeerd nie en nie minderwaardig in Jesus se oë nie. Die tyd waarin dit gebeur is egter belangrik. Jesus se tyd op aarde is baie min! Hy is 3km van Jerusalem waar hy binne ‘n paar dae sou sterf! In hierdie opsig kies Maria die beste. Marta dink dat Maria passief sit en niks doen nie, lui dalk, of ongeërg. “Hinder dit U nie?” vra sy vir Jesus. Sy dink Jesus sal saamstem – “Sê sy moet my kom help.” Sy het as’t ware ‘n blindekol/blindehoek hieroor! Sy sien nie die sin van wat Maria doen raak nie. “Marta, Marta” spreek Jesus haar aan. Die dubbelgebruik van haar naam dui op ‘n sagtheid in sy teregwysing. Jesus doen nie wat sy verwag het nie! Hy gee perspektief en wys haar op haar blindekol. “Jy is besorg en bekommerd oor baie dinge.” Dit is dreinerende emosies! En dit kom juis in die tyd wat Jesus Marta wil vul met nuwe insigte en krag. Haar goedbedoelde aktiwiteite dreineer haar emosioneel en beroof haar van dit wat Jesus haar wil bied! “Net een ding is nodig” sê Jesus. Hy kontrasteer dit met al die ander goed wat sy wil doen. “Maria het die beste deel gekies”. Jesus openbaar aan Marta, dat om doelbewus in sy teenwoordigheid te wees, die beste is. Maria se keuse het ewige vrug. Jesus veroordeel nie vir Marta nie, maar gee haar perspektief op wat die beste is. “Dit sal nie van haar weggeneem word nie.” Marta se keuse sou egter net tydelike vrug lewer.
4. LUISTER NA MEKAAR EN DIE WêRELD- luister jy na wat ander mense se oortuigings is? Die meeste van ons is so vasgevang in ons eie oortuigings, soos Marta. Sy dink wat sy doen is reg, en wat Maria doen is verkeerd. Sy is ook oortuig die Here steun haar oortuiging! Haar gemoed is nie oop vir ander moontlikhede met waarde nie. Ons moet ons vooropgestelde idees eenkant toe skuif en God se wil soek. Ook in dit wat ons doen, wat op die oog af baie goed is, soos met Marta.
5. LUISTER WEER NA DIE WOORD- lees weer LUKAS 10:38-42. Ons doen dikwels ‘n klomp dinge, baie goeie dinge. MAAR ONS IS BESIGER AS WAT DIE HERE ONS WIL Hê. ONS WORD TE BESIG VIR HOM! So kom ons nie by sy voete uit nie! Ons dink later “kosgee” is belangriker as om “voedsel” van die Here te ontvang! Ons sal dit nie sê nie, maar leef so. BESPREEK: Hoe dink jy het Marta gevoel, en hoe voel jy oor dit wat Jesus vir jou hieroor in jou lewe sê? Is jy “besorg en bekommerd”, of gaan sit jy by Jesus se voete?
6. FOKUS OP WAT GOD VIR JOU WIL DOEN- oordink dit, en bid nou saam hiervoor.
7. ANTWOORD MET JOU LEWE- gaan sit by Jesus se voete! Gee jou sorge en kommer aan Hom! Kies die beste. Leef dit wat nie van jou weggeneem kan word nie!
8. Administrasie: maak net weer seker van jou groep se diensbeurte.