Eredienste

Eredienste is geleenthede vir elke gelowige om God se genade te vier.

Oggenddienste: Elke Sondag om 09:00 in die kerkgebou.

Daar word ook elke Sondagoggend om 09:00 'n diens in die Soetdoring aftree-oord gehou.

Aanddienste word saam met NG Overkruin vanuit hulle kerkgebou gehou om 18:00


Die omgeewaentjie

Daar is 'n mandjie in die portaal na die binnehof waar jy nie-bederfbare kos linne-goed en klere kan plaas.
Hierdie items word deur die Diens-van-Barhartigheid-taakgroep sorteer en verprei.

Maak asseblief 'n gewoonte daarvan om gereeld iets in die mandjie te sit.


Doop

Die Doop is 'n teken wat Christus aan ons gegee het, en dien as seël op ons verlossing.
Met die Doop belowe God Homself aan kinders,
en ouers aanvaar hul geestelike verantwoordelikheid t.o.v. hul kinders aan die Here.

Die bediening van die doop geskied gewoonlik tydens 'n oggenddiens soos aangedui in die jaarprogram.
Aan die begin van die maand voor die doopgeleentheid, registreer u by die kerkkantoor, kry 'n doopvorm, en vul dit in. [Onthou u kind se geboortesertifikaat!]
Doopouers reël self met hulle leraar 'n afspraak vir 'n doopgesprek en ontmoet hom so gou as moontlik.
Gee asseblief by hierdie geleentheid u doopvorm aan die leraar.

Volwassenes kan ook gedoop word,
Kontak een van die leraars


Nagmaal

Die bediening van die brood en die wyn is 'n herdenking en 'n dankie-sê-geleentheid waar ons herinner word aan Jesus se offer vir ons aan die kruis.
Dit is saam met die doop geloofsversterkende simbole van God se genade.

Nagmaaldatums word in die jaarprogram aangedui.
Tydens aanddienste is Nagmaal meer informeel, meditatief en interaktief.

Sorg asseblief dat u bewyse van lidmaatskap by die kerkkantoor ingehandig is.

Indien daar gesinne / kinders is wat die nagmaal saam wil vier,
deurloop hulle 'n eenmalige toerustingsgeleentheid.

Indien jy van 'n ander gemeente oorkom of 'n besoeker is wat die nagmaal wil gebruik,
kan jy dit met vrymoedigheid doen.

By elke Nagmaalgeleentheid word daar deurkollekte gehou vir Bybelverspreiding.

Navrae by leraars.


'n Kuiergeleentheid.

Na elke oggenddines is daar 'n kuiergeleentheid in die binnehof.
Dit gee geleentheid aan gemeentelede om mekaar beter te leer ken en te praat oor die week wat verby is.
Dit is ook 'n wonderlike geleentheid vir nuwe intrekkers en die res van die gemeente om gemakliker met mekaar te word.
Koffie en tee is gratis te drinke
en koek is beskikbaar teen 'n minmale koste


Kategese

Juniors (Gr 0-6) het Kategese na die oggenddiens en seniors (Gr 7-10) saam NG Overkruin by hulle kerkgebou.


Belydenisaflegging

In Gr 11 kom die katkisante vir ‘n jaar in die belydenisgroep. Aan die einde van die jaar word die katkisante as belydende lidmate toegelaat en as belydende lidmate bevestig. Hiervoor doen hulle persoonlike aansoek met die opgaaf van redes. Belydenisaflegging hoef nie op ‘n bepaalde vasgestelde datum plaas te vind nie, maar daar word wel ‘n gesamentlike geleentheid gereël vir dié wat wil. Ouers word versoek om aktief  in hulle kinders se kategese en belydenisjaar deel te neem en belang te stel, soos God dit van die begin af van ons verwag! Volwassenes wat nie voorheen belydenis van geloof afgelê het nie, word deur ‘n predikant begelei om belydenis te kan aflê.


Huwelike

Om in die huwelik bevestig te kan word, moet die voornemende egpaar ‘n inligtingstuk by die kerkkantoor kry. Die inligtingstukhandel oor die reëling van ‘n huwelik en/of die bespreking van die kerkgebou. Die paartjie moet so spoedig moontlik (voor die bevestiging van ‘n troudatum) kontak met die een van die predikante maak en deurloop dan vooraf huweliksvoorbereiding by die predikant. Die afsprake word direk met die predikant gereël.


Die Leraars

In ons gemeente is daar 1 voltydse predikante – dr. Nelius Steyn (Noord-Pastorie). Ons militêre kapelaan ds. Erika van Tonder is deeltyds aan die gemeente verbonde. Sien ook kontakbesonderhede.


Gebed en gebedsversoeke

Gebed ontvang groot klem in ons gemeente en ons wil graag ‘n biddende gemeente wees! Ons kan nie sonder jou gebede nie, en wil ook graag saam met jou, en vir jou bid! Gebedsversoeke kan deurgegee word na die leraars, omgeegroepe, die kerkkantoor, en ook die Uitreiktaakgroep wat die gebedskoördinering in ons gemeente hanteer. Ons plaas ook graag gebedsversoeke in ons weeklikse gebedsbrief wat tydens eredienste uitgegee word. So kry ons geleentheid om in die erediens daarvoor te bid, en die gemeente bid ook in die week verder daarvoor aan die hand van die gebedsbrief. Ons vra dat jy jou gebedsversoeke en -behoeftes met ons deel, dat ons saam met jou in gebed kan meeleef! Ons wil graag deel in jou aanbidding, vreugdes, smeking, dankbaarheid, voorbidding, belydenis en lof!


Die Gebedsbrief

Ons gebedsbrief word weekliks by die eredienste uitgegee. Hierin deel ons erediens- en gemeente-inligting, vars nuus, en gebedsversoeke met mekaar. Dit is een van ons belangrikste kommunikasiemiddele en ons vra graag dat jy dit sal lees, aan aktiwiteite en gebede sal deelneem, en dit benut vir eie behoeftes soos voorbidding en nuus! Ons plaas ook advertensies vir dienste wat jy kan lewer en ons wil jou graag ondersteun! Vir enigiets wat jy in die gebedsbrief wil plaas, kan jy kontak maak met die kerkkantoor of die leraars.


Jeugaksies

‘n Jeugaksie (Debeon) vind elke Vrydagaand plaas soos deur die Jeug- taakgroep gereël.

Kontak Herman Rudolph (076 527 9616) of
Ashton van Niekerk (078 718 6659 of prysdieheer@gmail.com)

 


Omgeegroepe

Die omgeegroepe vorm ‘n netwerk van ondersteuning en bemoediging, waarin jy in ‘n kleingroep die persoonlike belewenis van die liefde van die Here saam met medegelowiges kan ervaar. Byeenkomste is informeel en gemaklik, en vra nie voorbereiding nie. Die klem lê nie op Bybelstudie nie, maar op saamwees, saam dien, en om mekaar te bedien. Omgeegroepe kom op ‘n weeklikse basis bymekaar, en jy kan by enige omgeegroep inskakel deur vrye assosiasie.

Omgeegroepe is betrokke by verskillende bedieninge binne en buite die gemeente soos byvoorbeeld: erediensbeurte, nagmaalgeleenthede, skinkgeleenthede, barmhartigheid, jeugwerk, ens. Omgeegroepe is ook op korter of langer termyn betrokke by projekte, wat hulle self kies om te doen soos hulleself oortuig is, soos byvoorbeeld die Jakaranda Kinderhuis, barmhartigheid, uitreike, Bybelverspreiding, ens. Hierdie projekte verander soos behoeftes en bedieninge dit vereis.

Omgeegroep-materiaal word weekliks tydens eredienste uitgegee, en sluit aan by die erediensgebeure en die -boodskap. Dit is ook beskikbaar op die webtuiste en kan vir persoonlike stiltetyd gebruik word.

Omgeegroepe is egter vry om enige byeenkoms in te rig soos hulle behoeftes by ‘n bepaalde byeenkoms blyk te wees. Ons wil jou graag uitnooi om by ‘n omgeegroep in te skakel, of jou eie omgeegroep te begin!


Bankbesondehede

NG Gemeente Wonderboom
ABSA Tjekrekning Sinoville Tak: 336945
Rekeningnommer: 5260151136


Skakel met een van die leraars, of met Pepsi Wepener (084 602 7044) in dié verband.Indien jy belangstel om betrokke te raak by kerk-aktiwiteite, lees hier.
Vir verdere navrae kontak die kerkkantoor (012 567 3631) of laai die gemeentegids af.