Ons kan nie die Here halfpad gehoorsaam nie.
Ons moet ook nie dink wat ons doen, is maar 'n kleinerige sondetjie nie.
Sonde het 'n ontsettende effek op ons, en die mense rondom ons!
In Josua 7:1 lees ons Akan was ongehoorsaam aan die Here.
Hy vernietig nie alles wat in Jerigo gevind is as deel van God se banoffer nie.
Hy "..het van die goed wat aan die Here gewy was,
gevat en daardeur het die toorn van die Here teen die Israeliete ontvlam."
Hy vat van die mooiste goed vir homself en begrawe dit in sy tent.
Die gevolge van sy daad was verreikend!
Baie mense sterf in die oorlog teen Ai.
Die Here sê vir hulle wat die rede is,
dat daar van Hom gesteel is, en dat daar gelieg is.
Hy sê vir Josua:
"Staan op, reinig die volk..." Vers 13.
Akan het nie gedink sy sonde is so groot nie.
Hy het ook nie gedink wat die effek daarvan sal wees nie.
Hy en sy hele gesin word doodgemaak.

God vra gehoorsaamheid.
Moenie met God hieroor arm druk nie.
Hy is die Heilige God.
Na die Israeliete die sonde uit hulle midde verwyder het,
gee God Ai oor in hulle mag, en hulle kon die buit hou.

God seën ons wanneer ons sonde vermy en dit uitroei.
God seën ons wanneer ons Hom gehoorsaam.
Kom ons bely dadelik ons sonde wanneer ons daarvan bewus word.
Deur doelbewus daarmee te handel kry jy deurlopend oorwinning.
Ons sal vrede en oorwinning ken,
wanneer ons die sonde uit ons midde verwyder!

Ernest