Kyk net wat sê God Genesis 22:2 vir Abraham:
“God het vir hom gesê: “Vat jou seun, jou enigste seun,
Isak wat jy liefhet, en gaan na die landstreek Moria toe,
en offer jou seun as brandoffer,
daar op een van die berge wat Ek vir jou sal aanwys.”
In sy opdrag beklemtoon die Here selfs nog meer hoe
moeilik dit vir Abraham moes wees om dit te gehoorsaam.
Jou seun – jou enigste seun – Isak wat jy liefhet.
Hoe kon Abraham dit enigsens verstaan?

Daar gebeur baie dinge met ons wat ons nie kan verstaan nie.
Wat ons laat wonder of God sy woord hou,
ten opsigte van al sy beloftes aan ons?
So moes Abraham ook deur dit worstel.
Ons vertrou God maklik wanneer Hy iets maklik van ons vra.
Maar God vra nie net gemaklike en lekker dinge van ons nie.
Partykeer vra Hy ontsettende moeilike dinge van ons....

Soos hierdie keer toe Hy vra dat Abraham sy seun moet gaan offer!
Abraham en Sara moes vyf en twintig jaar wag vir Isak se geboorte.
Hulle was altwee al 'n hoë ouderdom.
God self het Isak aan hulle belowe en vir hulle gegee.
Nou wil God hê Abraham moet Isak offer!
Hoe ontsettend moeilik moes dit nie vir Abraham wees nie.
Hoe sou hy dit ooit kon verstaan?

Maar hy vertrou die Here!
Hy gehoorsaam onvoorwaardelik.
In Genesis 22:8 sê hy:
"God sal sy eie offerlam voorsien."
En Abraham was reg.
God is betroubaar.
God het voorsien!
God hou sy woord!
Neem God op sy woord. Altyd.
Ook in die heel heel moeilikste omstandighede.....

ERNEST