Ook die gelowiges het in die Bybel se tyd al begin wonder:
Maar wanneer kom die Here nou?
En so het al hoe meer mense begin lewe
asof die Here nie regtig meer kom nie.
Hy het te lank gedraai na hulle sin.
Ons is mos maar haastig met die Here...
Dit is nie sonder rede dat die Here so lank draai nie, sê Petrus.
Om mee te begin, is tyd nie vir Hom 'n faktor nie.
Veral nie as dit gaan om mense se verlossing nie.
Hy wil hê dat niemand verlore sal gaan nie.
Uit genade het Hy nog nie gekom nie.
Daarom moet ons ook nie haastig wees met die wederkoms nie.
Ons het nou nog meer tyd om vir die Here te leef,
en mense na Hom toe te lei.
As die tyd reg is sal die Here kom!
Op sy tyd! Verseker!

"Een ding moet julle egter nie vergeet nie geliefdes:
vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag.
Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie,
al dink party mense so.
Nee, Hy is geduldig met julle,
omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie:
Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer." - 2 Petrus 3:8-9.

Gaan leef met 'n wederkoms verwagting!
Gebruik ook die genadetyd om mense na die Here toe te leef!

Ernest