Dit lyk of ons telkens stry oor dinge, en besig is met dinge,
wat juis nie die essensie van die Evangelie is nie.
Romeine 14:17-18 sê:
"Die Koninkryk van God is nie 'n saak van eet en drink nie,
maar van gehoorsaamheid aan God,
vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee.
Wie op hierdie manier vir Christus dien,
geniet die guns van God en die agting van die mense."
Lees verseker Romeine 14 rustig deur,
en hoor wat die Here vir ons sê oor alles
waaroor jy so met oorgawe stry.
Is dit die hartklop van die Evangelie?
Ons stry oor eet en drink, wat mag jy en wat nie?
Oor feesdae, is dit nou die Saterdag Sabbat,
of die Sondag Opstanding wat gevier moet word?
Oor groot of klein doop?
Oor hoe ons eredienste ingerig moet word,
watter instrumente en watter nie?
Oor 'n klomp goed wat nie die hartklop van die Evangelie is nie!
Romeine 14:16 sê dat ons so oor allerhande dinge kan stry en redeneer,
dat die goeie wat ons het 'n slegte naam kry!
So mis ander mense wat na ons kyk die hartklop van die Evangelie.
Hulle wonder waaroor die kerk nou eintlik gaan!?
Romeine 14:17 sê die hartklop van die Evangelie is;
gehoorsaamheid aan God,
vrede en vreugde, let wel, wat die Heilige Gees ons gee,
Hierdie vrede en vreugde is as gevolg van die vryspraak in Christus!
Dit bring 'n lewe van blydskap wat die Gees gee.
Ons mis gehoorsaamheid aan God,
liefde vir God en liefde vir ons naaste.
Ons mis die uitleef en uitdeel van vrede en vreugde,
wat die Heilige Gees gee.
Ons moet ons energie rig op dit wat regtig saakmaak.
Dit sal bydra tot eenheid in die Kerk van die Here Jesus.
Ons moenie toelaat dat elke verskil in smaak, of styl, of oortuiging,
die kerk van die Here verdeel nie.
Nie een van ons het die volle waarheid,
of leef onberispelik voor die Here nie.
"Laat ons ons dan beywer vir die dinge wat
die onderlinge vrede en opbou bevorder." Rom. 14:19.
Kom ons laat die belangrikste dinge weer belangrik wees!
Hoe lyk die hartklop van die Evangelie regtig in jou lewe?
Ernest