Probleme is deel van die lewe.
Swaarkry ook.
Verlies, siekte, noodsituasies, verhoudingsprobleme….
Niemand is in hierdie wêreld gevrywaar van swaarkry en lyding nie.
Die Bybel belowe nêrens net voorspoed en sukses nie.
Jesus het self gewaarsku dat sy volgelinge nie net maklik sal hê nie.

Maar, God is op ‘n besondere wyse in die lyding van sy kinders teenwoordig.
Niks kan jou daarin skei van sy liefde nie, sê Romeine 8:30.
God laat selfs alles ten goede meewerk vir jou, sê vers 28.
In lyding ontdek jy God en leer jy dinge oor God,
soos jy dit op geen ander wyse sou leer nie.
Jy groei in jou vertroue op God alleen.
Eers as God al is wat jy het, sal jy weet dat Hy alles is wat jy nodig het.

Die Bybel gee ook die versekering dat swaarkry en beproewing nie vir altyd sal duur nie.
2 Kor. 4:17 sê dat dit vir die gelowige uitloop op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref!
Daarom kan ons in swaarkry en seerkry volhard met die oog gevestig op Jesus.

Deur swaarkry bou die Here ook aan jou karakter.
Paulus sê dat hy juis in swaarkry onder leiding van die Heilige Gees groei.
Hy groei in geloof, hoop en liefde – Rom. 5:3-4.
Karakterbou is soos liggaamsbou.
Dit is ‘n tydsame proses.
Wees in moeilike tye geduldig en bly op God gefokus.
Corrie ten Boom het gesê:
“As jy na die wêreld kyk gaan dit jou ontstel;
as jy na binne kyk gaan jy teneergedruk raak;
as jy na Christus kyk, sal jy rustig bly.”

Beweeg verby die “waarom ék”-vraag na die “waartoe wil U Here”-vraag.

Ernest