‘n Jongman, John W. Yates, was so arm dat hy stukke karton
in sy skoene gesit het om die gate in die sole toe te maak.
Nogtans het hy op die ouderdom van 15 jaar ‘n bankrekening geopen.
Hy het gereeld klein bedraggies daarin gedeponeer.
Dit het al groter en groter geword onder die naam “John W. Yates Maatskappy.”
Hy was bekend daarvoor dat hy nie buite God se wil wou optree nie.
Hy het gesê hy werk vir God en onder sy bestuur.
Sy lewe en besigheid het daarvan getuig.
Hy het mettertyd ‘n bekende miljoenêr geword.
Die Skot, Oswald Chambers, het so baie litirêre talent getoon,
dat hy op die ouderdom van 18 genooi is om onder Europa se grootste meesters te studeer.
Hy het egter die aanbod van die hand gewys en by ‘n redelik onbekende Bybelskool ingeskryf.
Daar het hy een van die lektore geword.
Later het hy na Egipte gegaan om onder die Britse soldate te werk.
Hy was maar in die veertigs toe hy oorlede is.
Maar hy was ook bekend daarvoor dat hy altyd God se wil eerste gesoek en gedoen het.
Hy het ‘n ryke skat van geestelike geskrifte nagelaat.
Albei hierdie manne het die wil en die eer van die Here voorop gestel in hul lewens.
Daarin het hul lewenskwaliteit en sukses gelê.
Ons lees dit ook van Daniël in die Woord van God.
Juis as gevolg daarvan lees ons in Daniël 6:29:
“Dit het goed gegaan met Daniël gedurende die regering van Darius….”
Daniël het sy loopbaan as ‘n gevangene in Babilon begin.
Hy het herhaaldelik sy lewe op die spel geplaas om aan die Here getrou te bly.
Hy het geweier om kompromie te maak en God het hom tot ‘n hoë posisie bevorder.
Wanneer ons heel eerste die wil van God soek en doen, behaal ons in God se oë sukses.
Buite God se wil is daar nie ware sukses nie.
Binne die wil van God, is daar nie mislukking nie!
Ernest