Waag dit vandag om jou gemaksone te verlaat.
God het baie meer om jou te bied, as waarmee jy tevrede is!
Glo dit en beweeg in geloof daarnatoe.

Het jy geweet, dit vra net soveel energie om te glo en aan te hou glo,
as wat dit vra om pessimisties of negatief te wees.
Maar die gevolg is so totaal verskillend!
Verwag elke dag groot dinge van God!
Net mense wat weier om langs die pad te gaan staan,
sien dat hulle drome waar word.
Stap die hele geloofspad saam met die Here.

Abraham, en sy vader, Tera, is ‘n voorbeeld hiervan.
Abraham se vader, Tera,
het gehoop om na die plek te trek waarheen God Abraham later sou lei.
Genesis 11:31 sê:
“Abraham se vader het uit Ur weggetrek om na Kanaän toe te gaan.”
Let wel: “…..om na Kanaän toe te gaan.”
Kanaän was die beloofde land,
en Tera was van plan om sy familie na daardie land van oorvloed te neem.
Maar volgens Genesis 11:31 het hulle “net tot by Haran getrek en daar gaan woon.”

Waarom het hy nie verder getrek nie?
Dit was seker in daardie tyd nie maklik om te trek nie, toegegee.
Uiteindelik het Tera en sy groep seker gesê:
Ons kan nie verder nie.
Ons wou eintlik na Kanaän toe, maar hierdie is nou goed genoeg.
Dit is nie die Beloofde Land nie, maar dis goed genoeg.

Hoeveel keer doen ons nie dieselfde nie?
Ons draai om, of gaan staan net duskant wat God vir ons bedoel.
Dit is ook nie heeltemal wat ons sou wou hê nie, maar dis goed genoeg.
Moenie in hierdie slaggat trap nie!
God bedoel met jou baie meer, as maar net goed genoeg!
Moenie middelmatigheid in jou verhouding met die Here aanvaar nie.
Hy doen dit ook nie!

Al is dit nie altyd maklik nie,
hou aan glo dat God meer vir jou bedoel.
Verlaat jou gemaksone, en beweeg in geloof daarnatoe.

Ernest