Die Boodskap sê in Matteus 6:31-34:
“Stel God se koninkryk eerste.
Doen net daardie dinge wat vir Hom belangrik is.
Hy sal vir die res sorg.
Hy sal elke dag vir julle genoeg kos en klere gee.
En los môre se probleme vir die dag van môre.
Van probleme het elke dag immers oorgenoeg.
Leef vandag voluit vir God.”

Hierdie Skrifdeel help ons om soos Jesus te leef.
Ons moet altyd op die uitkyk wees vir wat God in die wêreld doen.
Ons moet doelbewus daarby betrokke raak.
Wen of verloor, bepaal nie meer ons lewe nie.
Wie ons is, en waar ons lewe, omskryf en bepaal ons lewe.
Ons is Jesus-volgelinge in wie die Gees van God bly.
En ons lewe in die koninkryk van God.

Tydens die eerste deel van die konstruksie van die baie hoë Golden Gate brug,
is geen veiligheidsmaatreëls getref nie, en 23 mense het hulle doodgeval.
Met die laaste deel van die bouwerk, het hulle ‘n veiligheidsnet gespan.
Tien werkers het in die net geval, en hulle lewens is gespaar.
En meer as 25% meer werk is gedoen, nadat die veiligheid van die werkers gewaarborg is!

Matteus 6:31-34 is as’t ware ‘n veiligheidsnet van die Here vir ons lewe.
Dit laat ons fokus op wat ons moet doen,
en dit bewaar ons van onnodige bekommernisse.
Stel God se koninkryk eerste.
Dit is die verwysingspunt wat ons hele lewe rig.
Leef dan vandag voluit vir God!

Ernest