In Matteus 6:1-4 sê Jesus wanneer ons besluit om goeie dinge vir ander mense te doen,
moet ons eers seker maak hoekom ons dit doen.
Ons moet dit nie doen om raakgesien te word nie.
Ons moet ook nie ‘n openbare skouspel daarvan maak nie.
Ons moenie applous, of kollig soekers wees nie.

Ons moet terugstaan en God die eer laat kry.
Ons moenie daarop klem lê dat ons iets gedoen het,
en dan maar net die Here eervol vermeld nie.

‘n Vrou wat in Nova Scotia grootgeword het, voor die Tweede Wêreldoorlog,
vertel van haar pa wat altyd tydens kersfees kratte lemoene geskenk gekry het.
Hy het een krat huistoe gebring in hierdie arm tye, en die ander kratte werk toe geneem,
na die treine waarop hy gewerk het.
Sy het altyd gewonder of hy dit self op die trein eet.
Jare later het sy iemand verpleeg, en hierdie pasiënt vertel haar toe van die besondere man op die treine.
Hulle het as arm kinders langs die trein gebedel.
Die man het altyd vir hulle iets gegooi om te eet.
En met kersfees was dit die lekkerste, wanneer hy uit ‘n krat vir hulle lemoene in die sneeu gegooi het.
Die vrou het na verdere gesprek besef dit was haar pa!

Baie mense doen goeie dinge om gesien te word, erkenning en eer te kry.
Iemand het gesê:
“People that are wrapped in themselves,
make a pretty small package.”
Doen goed, maar wees liewer ‘n agter die skerms doener van goeie dinge.
Laat die kollig op God se goedheid val.
Laat God werklik al die eer kry.
Dit is Hy wat die goeie deur jou doen!

Ernest