In Matteus 5:41 sê Jesus;
As ‘n soldaat na jou toe kom en jou beveel om sy rugsak ‘n kilometer vêr te dra,
moet jy sommer uit jou eie aanbied om dit twee kilometer vêr te dra.”
Romeinse soldate moes hulle toerusting en swaar bagasie oor lang afstande dra.
Die soldate het dan dikwels, wanneer hulle deur dorpe gegaan het,
iemand opdrag gegee om hul bagasie te dra.
Dit was gebruik, en hoewel niemand daarvan gehou het nie, moes hulle dit maar doen.
Jong seuns is selfs deur ‘n wet verplig om ‘n soldaat se bagasie ‘n kilometer vêr te dra!
Daar was selfs stokke langs die paaie in dorpe,
om die afstande uit te merk wat die seuns moes dra.
Jesus sluit nou hierby aan, en almal verstaan wat Hy sê.
Maar Hy keer die appelkar om!
Niemand het daarvan gehou om ‘n soldaat te help nie.
Hulle was die onderdrukkers.
Nou sê Jesus hulle moenie ‘n soldaat net een kilometer help nie, maar twee!
Jesus gee ‘n nuwe lewensbeginsel.
Doen as kind van die Here meer as wat van jou verwag word.
Doen dit vir die Here, en nie in die eerste plek vir die mens wat dit verwag nie.
As jy net doen wat die mens van jou verwag, doen jy dit net vir hom.
As jy meer doen, begin jy ‘n roeping uitleef, om alles vir die Here te doen.
In die eerste kilometer is jy die blote volgeling van ‘n mens se verwagting.
In die tweede kilometer bereik jy lewensvreugde!
Dit is hoe Jesus geleef het.
Leef jy ook so.
Ernest