‘n Spaanse patriot, Narvaez, het op sterwe gelê.
Die priester vra toe vir hom of hy al sy vyande vergewe het.
Verbaas het Narvaez geantwoord:
“Vader, ek het geen vyande nie. Ek het hulle almal doodgeskiet.”
Uit die fliek “No Man’s Land” kry ons weer ‘n ander siening in die aanhaling:
“Elke keer as ek ‘n soldaat van die vyand in die oë gekyk het,
het ek geen vyand gesien nie, maar net nog ‘n medemens,
wat na die beeld van God gemaak is.”
Om ‘n soldaat se bagasie ‘n tweede kilometer te dra is een ding,
maar om jou vyand lief te hê…!
Is dit nie te veel gevra nie?
Ons sou seker so kon redeneer, as dit nie Jesus self is wat dit gesê het nie!
Na die soldaat woord in Matteus 5:41, gaan Hy nou nóg verder in Matteus 5:43-45:
“Julle ken die ou opvatting: “Wees lief vir jou naaste. Haat jou vyand.”
Wel, dit is nie waar nie. Ek sê vandag vir julle dat julle ook julle vyande moet liefhê.
Dan leef julle regtig soos kinders van God.
Want Hy doen goeie dinge vir almal.
Hy laat die son skyn oor goeie en oor slegte mense.”
Kort en kragtig sê Jesus:
Los die ou menslike opvatting.
Dit is nie waar nie.
Leef nou soos ‘n kind van God.
Hy het almal lief, en doen goed vir almal!
Jy hoef maar net by jouself te begin.
Toe jy nog God se vyand was, het Hy jou nie gehaat nie.
Juis deur Sy liefde vir jou,
het Hy jou met Homself versoen in Christus Jesus! Romeine 5:10.
Nou moet jy regtig soos ‘n kind van God gaan leef, sê Jesus hier in Matteus,
en jou vyand liefhê!
Dit is presies hoe God maak!
Gaan leef nou soos ‘n kind van God!....sê Jesus in vers 45.
Ernest