Romeine 14:1 sê jy moenie maak asof jy beter is as ander gelowiges nie.
Daar is altyd ander wie se geloof nog nie so sterk soos joune is nie.
Aanvaar hulle met oop arms sonder om te stry en te baklei.
Vers 4 vra verder: Wie is ons, om so maklik ‘n oordeel uit te spreek,
oor die manier waarop ander mense hul geloof uitleef?
God self sal daaroor besluit, of hulle reg doen of nie.
Dit is nie ons werk nie!
“In elk geval, mense wat in God glo,
al doen hulle dit op ‘n ander manier as jy,
sal gered word. Die Here sal daarvoor sorg.” Die Boodskap (vers 4) .
Ons oordeel heeltemal te maklik oor mense.
Gelowiges wat hul geloof anders uitleef as ons.
Ons skryf hulle selfs af!
Vader Michael Mulvaney het by ‘n skool in ‘n saal oor selfbeeld gepraat.
Een dogter het heeltyd met haar rug na hom gesit, en gepraat, en beduie.
Hy was naderhand gefrustreerd,
en het haar hard aangespreek voor almal in die saal!
Sy het omgedraai na hom toe en gesê sy is baie jammer,
maar sy was besig om, wat hý sê, vir die dowes in die skool te tolk!
Ons oordeel maklik, sonder om mooi te besef….
Dink mooi.
Jy ken nie al die omstandighede, seer,
en geskiedenis van ‘n ander persoon nie.
Jy ken ook nie ‘n ander se verhouding met die Here nie.
Jy weet eintlik so min,
van wat in ‘n ander persoon se verhouding met die Here gebeur.
Die beste is: Moenie oordeel nie!
Gaan lees wat sê Jesus in Matteus 7:1-2.
Ernest