Ons het ‘n ongelooflike visuele vermoë.
Jou oë neem elke sekonde 4 miljoen grepe inligting waar!
Hierdie data word deur jou brein geprosesseer om ‘n driedimensionele beeld te vorm.
As jou databank nog bykom, word dit meer verstommend.
Wanneer iemand skryf: “Groot groen boom”, sien jy nie net die woorde nie.
Jou geestesoog laat jou ‘n beeld sien van die boom!
Die beeld word saamgestel met behulp van jou verstandelike rekenaargeheue.

Net so het jy ook ‘n beeld van jouself!
Daardie beeld van jouself bepaal grootliks hoe jy funksioneer.
Jy sal nie maklik hoër styg, as daardie beeld van jouself nie.
Ons word dikwels so baie beperk deur ons eie visie van onsself!

Matteus 6:22-23 sê:
“Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog goed is,
sal jou hele liggaam lig hê. Maar as jou oog sleg is,
sal jou hele liggaam sonder lig wees.”

Die Bybel praat van jou oog as jou liggaam se lamp.
Dit verwys nie na jou fisiese sig nie, maar gaan oor jou geloofsvisie!
Dit wat jy deur jou geloofsoë sien.
Indien jy fokus op jou probleme, en dit wat jy dink jy nie kan doen nie,
stuur jy af op middelmatigheid.
Jy sal nie uitstyg bo die toppunt van wat jy vir jouself sien nie.
Dit is nie die Here wat jou terughou nie, maar jou eie geloofsvisie wat jou beperk.

Wanneer jy fokus op God se seën en guns,
en met geloofsoë sien hoe jy meer ontvang, en meer gee,
meer liefde bewys, en meer die lewe voluit leef,
sal jy groei en groei na hoër hoogtes!
Jou visie, dit wat jy met jou geloofsoë sien,
het ‘n ontsaglike uitwerking op jou hele lewe.

Begin die potensiaal raaksien wat God in jou geskep het.
Begin na jouself kyk soos Hy na jou kyk.
Laat God as’t ware jou verbeelding aangryp oor jouself.
God wil jou deurgaans ophef en optel, nooit afdruk nie!
Hou Hom voor oë, en sý doel met jou!
Leef voluit daarvoor, en moenie brieke op jouself sit nie!

Ernest