Spreuke 29:25 sê:
“As jy vir mense bang is,kan jy in ‘n strik beland,
maar as jy jou vertroue in die Here stel, is jy veilig.”
Die Fox rassegroep van Amerikaanse Indiane het hul eie
manier van morele opvoeding gehad.
Hulle het nie met straf gedreig nie, maar gesê:
“Die mense van die stat sal slegte dinge van jou sê, en jou spot.”
Hierdie was swaar sosiale druk, wat kinders reg laat optree het.
Die groepsdruk in ‘n bepaalde konteks kan werklik baie hoog wees!
Jesaja 51 erken ook die mag wat groepsdruk kan uitoefen.
Hier is dit egter nie motivering om die regte ding te doen nie.
In Jesaja 51:7 waarsku die Here vir Israel,
dat hulle nie bang moet wees vir die spot van mense nie!
Dit sal juis vir hulle ‘n struikelblok wees.
Hulle kommer oor wat ander van hulle sal dink, en sê,
sal juis veroorsaak dat hulle nie meer op die Here vertrou nie.
So sal hulle onheilige alliansies vorm, en kompromie maak.
Hulle moet op God vertrou, en sy wil soek.
Dit is so belangrik vir elkeen van ons.
Die “vrees vir mense” is vir baie van ons ‘n struikelblok.
Ons moet eerder leef in “die vrees van die Here”.
“Die vrees van die Here” is die “dien van die Here!”
Wat mense dink en sê, is nie noodwendig God se wil nie.
Dit sal jou ook voortdurend in onsekerheid laat leef.
God se wil staan egter vas! Dit gee sekerheid.
Wanneer ons die Here dien, in “die vrees van die Here” lewe,
sal die vrees vir wat mense sê en doen,
plek maak vir vertroue en sekerheid in die Here.
Dit is juis eerbied vir God, die “vrees van God”, wat ons vrymaak!
Vrymaak om sy wil uit te lewe!
Ernest