Baie mense hou daarvan om baie bang gemaak te word.
Hulle sal flieks kyk waar hulle by die hoogtepunte oë en ore toedruk!
En dan sal hulle weer gaan kyk.
Hulle kyk na afgryslike films,
maar wil nie met regte geweld gekonfronteer word nie.

Hulle wil ook nie bang gepraat word met woorde van oordeel van God af nie.
Hulle wil nie hoor van die oordeel van God nie, maar net van sy liefde en genade.
Natuurlik is dit die belangrikste om te verkondig: God se liefde en genade!
Maar dieselfde Bybel sê ook dat God regverdig is, en die sonde straf.

In Jesaja 66:4 sê die Here:
“Daarom besluit Ek dat hulle gestraf moet word….
Toe Ek geroep het, het niemand geantwoord nie.”

Jesaja het nie gehuiwer om God se mense te waarsku nie.
Hy het nie gehuiwer om hulle “bang te praat” nie.
Dit was egter nie bangmaakstories soos in die flieks nie.
Dit het gegaan oor die ontsettende gevolge,
omdat hulle volhardend hul rug op die Here draai!
Jesaja waarsku die koning teen ‘n alliansie met Assirië,
en dan beskuldig hulle hom van verraad…
Hy sê hulle het baie meer rede om vir God bang te wees, as vir Assirië!
As hulle met Assirië saamwerk sou God hulle straf.
Dit is lynreg teen God se wil!
Die Here sou hulle vryheid wegneem!

So verklaar die Bybel ook dat diegene wat volhardend die Here Jesus verwerp,
en met hulle bose dade voortgaan,
aan die einde sal ontdek dat God hulle vyand geword het.
Hierdie boodskap is nie om bang te maak nie.
Hierdie boodskap is nie om iemand met “vrees” na die hemel toe te dwing nie.
Inteendeel.
Die boodskap is: Ontdek Wie die Here is! Vertrou Hom alleen!
Die liefdesboodskap is juis:
Leef in “die vrees van die Here”, en jy hoef niks anders te vrees nie!
Die betekenis is: Dien die Here wat jou so oneindig liefhet!

Ernest