Gelowiges word deur baie soorte vrese aangeval.
Baie is vae, naamlose vrese en gevoelens, en bekommernisse
wat ons van ons vreugde en vrede beroof.
So word selfs ons geestesgesondheid en fisiese gesondheid ondermyn.
Wanneer ons in die “vrees van die Here” leef,
sal hierdie aardse vrese ons nie meer beheer nie.
Die “vrees van die Here” was die ou vertaling,
en dit word nou vertaal met die “dien van die Here”.
Of “eerbied vir God”.
Dit is die “Godvresende” sekerheid dat God in beheer is.
Dit plaas ons menslike vrese in ‘n totaal ander perspektief.
Wat ons die meeste moet “vrees”, is om nie die Here te dien nie!
Om nie vir God te eer nie!
Daarom sê Matteus 10:28:
“Moenie bang wees vir die wat die liggaam doodmaak,
maar die siel nie kan doodmaak nie.
Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel
in die hel kan laat vergaan.”
Vrees is seker deel van die lewe….
Maar leef in “die vrees van die Here”,
en alle ander vrese kom in perspektief!
Dan heers vrees nie oor jou lewe nie,
want jy weet die Here heers oor jou lewe.
Dien die Here!
Leef uit eerbied vir God!
Dan het jy niks te vrees nie!
Ernest