Ons ken al die storie van die ou wat iemand se geparkeerde motor gestamp het.
Hy skryf toe op ‘n stukkie papier en plaas dit onder die ruitveër:
“Ek het nou net in jou motor vasgery.
Die mense wat die ongeluk sien gebeur het, hou my dop.
Hulle dink dat ek my naam en adres vir jou neerskryf, sodat jy my kan kontak.
Ek gee net voor om dit te doen.
Maar dit is nie regtig wat ek doen nie.”

Mense doen dit in hulle geestelike lewe ook.
Hulle gee voor om dinge te doen, maar dit is net voorgee.
In Jeremia 3 lees ons dat Juda voorgegee het dat hulle na die Here toe terugkeer.
In vers 10 sê die Here:
“Juda het na My toe teruggekom,
maar nie met volle oorgawe nie;
dit was vals.”

In werklikheid was hulle harte vêr van Hom af.
Hulle het Hom “Vader” genoem,
maar met al hul sondige gebruike voortgegaan.
Jeremia 3:4-5 sê:
“En nou noem jy My skielik: “My Vader”,
en sê jy: “U is my vriend vandat ek ‘n kind was.
Sal U vir altyd kwaad wees,
vir altyd toornig wees?”
Dit is wat jy gesê het,
maar jy het verkeerd bly doen net waar jy kon.”

Voorgee….
Mense sien jou dade, maar God sien jou motiewe.
Sê jy ook maklik, soos Juda, “My Vader”.
Maar jy bly verkeerd doen net waar jy kan.
Ons is slim genoeg om goed te vertoon.
Ons weet wat die regte dinge is om oor die Here te sê.
Om net goed te lyk, is nie goed genoeg nie.
Wat is diep in jou hart jou gesindheid teenoor die Here?

Leef opreg voor die Here.
Voor Hom is jy deursigtig!

Ernest