In 2 Korintiërs 2:14 lees ons dat God, deur ons ,
die kennis van Christus versprei soos ‘n aangename geur!
Vers 15 sê ons is die wierook wat deur Christus vir God gebrand word!
En die geur bereik ander mense.
Dit kan ‘n aantrekkingskrag wees vir verlore mense om na God toe te kom.
God werk so in die lewe van sy kinders, dat hulle vir ongelowiges aantreklik lyk.
Die Gees van God bring ‘n begeerte by mense
om ook te ervaar wat hulle in kinders van die Here sien.

Vir ons is dit baie moeilik, eintlik onmoontlik, om mense te oortuig om na die Here toe te draai,
en vir Hom te leef.
‘n Verdwaalde boggelrug walvis van 15 meter en 45 ton,
het eenmaal langs die kus van Kalifornië die San Francisco Baai binnegeswem.
Hy is onder die Golden Gate brug deur en het vir ongeveer 200km rivier opgeswem!
Vir meer as 3 weke het mense probeer om hom in soutwater terug te kry.
Maar hy het alle pogings weerstaan, al was dit vir sy eie beswil.
Uiteindelik het marinebioloë vir Humphrey, soos hulle hom nou al gedoop het,
na die see toe teruggelok.
Hulle het opnames gespeel van die geluide wat boggelrug walvisse maak as hulle eet.

Die aantrekkingskrag wat die Here deur ons versprei, trek mense na die Here toe.
1 Petrus 3:4 sê ook dat ‘n gelowige vrou haar ongelowige man na die Here kan trek,
deur die manier waarop sy leef.
Die Here se liefde en vreugde en vrede gaan van ons uit!
Dit bring geluide na vore wat mense na die lewe lok!
Die “soutwater” lewensruimte waarin hulle waarlik kan lewe!
Die lewe by God.

Ernest