In Matteus 19:4-6 sê Jesus:
“Het julle nie gelees dat die Skepper hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie?
Daarby het hy gesê: “Daarom sal ‘n man sy pa en ma verlaat en saam met sy vrou lewe,
en hulle twee sal een wees. Hulle is dus nie meer twee nie, maar een.
Wat God dan saamgevoeg het, mag ‘n mens nie skei nie.”
God het die huwelik vir kameraadskap gemaak.
Hy het gesien die mens kan nie eensaam wees nie.
Daarom die woorde: ”Hy het hulle man en vrou gemaak.”
God het ook die huwelik vir voltooidheid geskep.
Dit is die betekenis van die woorde:
“Daarom sal ‘n man sy pa en ma verlaat en saam met sy vrou lewe.”
Die vrou is sy gelyke en hulp.
Hulle vorm ‘n vennootskap.
Hulle staan mekaar by, en bring die verhouding tot voltooiing.
Hulle moet die beste uit mekaar haal.
God het ook die huwelik vir kommunikasie gemaak.
Daarom sê Hy: “Hulle twee sal een wees.”
‘n Gelukkige huwelik is ‘n wonderlike gesprek, wat altyd te kort voel.
Hierdie gesprek lei ook tot intimiteit van “een wees”.
Bid dat huwelikke vir God geleef sal word.
Indien jy uit ‘n gebroke huwelik kom, hetsy jou eie, of die van jou ouers,
onthou dan wat John Powell gesê het:
“Ons lewe word gevorm deur hulle wat ons liefgehad het,
en die wat misluk het om ons lief te hê.”
God gebruik alle verhoudings om jou te vorm.
Huwelikke is broos en breekbaar!
Hanteer dit met die grootste sorg en versigtigheid.
Bid vir elke huwelik waarmee jy te doen kry!
Ernest