Heeltemal anders as wat die mens dit wil laat werk!
God se koninkryk werk heeltemal anders!
Daarom begin Jesus sy gelykenis om dit te verduidelik met hierdie woorde:
“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met die eienaar van ‘n wingerd
wat vroeg in die môre uitgegaan het om arbeiders vir sy wingerd te huur.” Matteus 20:1.
Die wingerd eienaar huur dan verskillende mense op verskillende tye van die dag.
Maar aan die einde van die dag betaal hy hulle presies dieselfde,
ongeag of hulle korter gewerk het.
Die mense wat die langste gewerk het, is nie ongelukkig met hoeveel hulle kry nie.
Hy het in elk geval met hulle ooreengekom op ‘n gewone dagloon!
Hulle is hoogs ongelukkig met die wat korter gewerk het, en net soveel kry!
Dit kan mos nie.
Maar die eienaar antwoord hulle:
“Vriend, ek doen jou geen onreg aan nie.
Het jy nie met my ooreengekom oor die gewone dagloon nie?....
Ek wil vir hierdie laaste een dieselfde gee as vir jou.
Mag ek dan nie met my geld maak wat ek wil nie?
Of is jy afgunstig omdat ek goed is?
So sal die laastes eerste wees, en die eerstes laaste.”
Dit is baie belangrik om te verstaan dat dit is hoe God se koninkryk werk!
Ons wil graag werk met verdienste.
Soos mense wat in rye staan.
Die wat eerste is word eerste gehelp.
Daar is ‘n volgorde.
Iemand is eerste, en iemand is laaste in die ry.
Indien die bron uitgeput sou kon raak, dan moet dit na die einde toe gebeur.
Die eerstes in die ry word nie daardeur geraak nie.
Nou lyk dit amper asof Jesus die ry omkeer!
Die laastes sal eerste wees, en die eerstes laaste!
Maar dit is nie hoe die koninkryk van God werk nie.
God werk nie met rye nie!
God gee aan almal ewe veel genade!
Dit is juis wat genade is!
Jy kan nêrens in die ry staan om meer te kry nie!
God laat ons as’t ware in ‘n kring staan!
Almal is ewe belangrik en spesiaal !
Daar is niks wat jy kan doen om te maak dat God jou meer liefhet nie.
Daar is niks wat jy kan doen, wat sal maak dat God jou minder liefhet nie.
God het jou onvoorwaardelik lief,
en gee aan jou net soveel genade as aan enige ander persoon!
Dit is hoe genade in die koninkryk van God werk!
Gaan leef nou dankbaar uit sy genade vir jou, én ander mense!
Ernest