Die meeste van ons wil graag van onsself dink as : onafhanklik!
Ons wil ons eie ding doen en nie op ander staatmaak nie.
Ons wil ons eie lewe reël.
En baie van ons kry dit nogals taamlik goed reg ook.
Probleem is dat ons in die moderne lewe dink ons kan ook onafhanklik van God lewe!
Ons sal dit nie sê nie, maar ons leef asof dit so is.
Handelinge 17:28 sê egter:
“Want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons.”
Ons is eintlik net so afhanklik van God as wat ‘n klein babatjie van sy ouers is.
Ja, nog baie meer!
‘n Baba kan glad nie op sy eie bestaan nie.
Hy moet gevoed word, opgetel word, geklee word, vasgehou word.
En dan begin die hele proses weer van voor af!
Ons is selfs nog meer van God afhanklik!
Hy voorsien in letterlik alles!
Van die lug wat ons inasem om te lewe,
tot die gesonde verstand om te doen wat ons doen!
Ons het Hom nodig in al ons probleme – Johannes 16:33.
Ons kan nie sonder sy liefde nie – 1 Johannes 3:1.
Ons kan nie sonder Hom in nood nie – Hebreërs 4:16.
Hy gee ons oorwinning oor versoekings – 1 Korintiërs 10:13.
Hy gee vergifnes wanneer ons sonde doen – 1 Johannes 1:9.
Hy gee ‘n lewensdoel – Jeremia 29:11.
Hy gee die ewige lewe – Johannes 10:28.
Sonder Hom kan ons regtig niks doen nie! – Johannes 15:5.
Van Hom ontvang ons regtig genade op genade! – Johannes 1:16.
Ons is absoluut totaal afhanklik!
Van die Here afhanklik!
Moenie anders probeer lewe nie.
Jy kan nie.
Soos ‘n pasgebore baba, so sorg Hy vir jou.
Om op God te vertrou is nie swakheid nie.
Inteendeel, dit is om sy krag te erken!
Ernest