Jakobus sê in Jakobus 1:21 dat ons
al die ongeregtigheid in ons lewe moet opruim
…“en ootmoedig die woord aanneem wat God in julle lewe geplant het,
want dié woord kan julle red.”
Dikwels wil ons nóg ‘n boek lees.
Of ons wil nóg ‘n seminaar bywoon.
Of ons wil nóg meer oor iets redeneer.
Eintlik moet ons net begin leef wat die Woord van God vir ons sê!
Ons pogings om net meer en meer ingelig te wees,
kan selfs in die weg staan van God se wil wat ek net eenvoudig moet uitleef.
Ons kan oor iets bly redeneer en in werklikheid is ons besig om God se wil te weerstaan,
in plaas daarvan om dit nederig te ontvang, en te gehoorsaam.
Jakobus sê juis verder in vers 22:
“Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie,
anders bedrieg julle julleself.”
Ons moet “ootmoedig die woord aanneem….”
Die Griekse woord vir “aanneem” beteken om iets
“met voorbedagte rade en gewilliglik aan te neem.”
Dit is ‘n gesindheid van sagmoedigheid teenoor God,
waarin ons al sy handelinge as goed beskou,
en daarom dit nie teenstaan of betwyfel nie.
Of heeltyd krities bevraagteken nie!
‘n Nederige hart kom nie in opstand teen God nie.
God se woord wat in ons harte ingeplant is,
is ‘n betroubare bron van geestelike wysheid en krag!
Dikwels moet ons net ophou redeneer daaroor, en dit eenvoudig uitleef!
Die krag daarvan is beskikbaar vir elkeen wat dit eenvoudig leef, en doen!
Ernest