Hoe dikwels hoor ‘n mens nie dat iemand dit sê nie.
“Ek wil nou nie skinder nie, maar….”
En wat dan in die gesprek volg is juis niks anders as skinder nie!
Die Here het eintlik ‘n “geen verdraagsaamheid” beleid oor skinder!
Hy haat dit! Punt!
Reeds in Levitikus 19:16 sê Hy:
“Jy mag nie loop en skinder nie,
jy mag nie jou medemens se lewe in gevaar stel nie.”
Salomo het ook al gewaarsku hoe vernietigend dit is.
Dit lap geheime uit – Spreuke 11:13.
Dit bring verwydering tussen vriende – Spreuke 16:28.
Dit gee die persoon wat skinder ‘n slegte reputasie – Spreuke 25:9-10.
Dit is soos ‘n vuur wat rusies aanwakker – Spreuke 26:20-22.
Skinderpraatjies is soos om ‘n kussing vol vere in die wind uit te skud!
Jy kry nooit weer al die vere terug in die kussing nie!
Die skade in ‘n persoon se lewe is heel dikwels blywend.
Vernietig skinderpraatjies deur eenvoudig nie daarna te luister nie.
Doen dit demonstratief sodat die persoon wat skinder dit sien, en dit staak.
Kom ons vra die Here om ons te help dat ons eenvoudig nie skinder nie.
Die een wat praat, en die een wat luister, is ewe skuldig!
Plaas ‘n wag voor jou mond.
Elkeen wat by jou kom skinder, sal ook oor jou skinder!
Ernest