Elkeen van ons het ‘n bediening vir die Here, daar waar ons lewe.
Moenie die belangrikheid van jou bediening onderskat nie.
Moenie dink wat jy vir die Here doen is klein en onbenullig nie.
Ons vergelyk te maklik wat ons doen, met dit wat ander doen,
en dan dink ons dat ons bydrae of bediening gering is in God se oë.
Ons is selfs jaloers op ander mense se getuienis,
en wens dan dat ons verhaal ook so treffend was.

Die Here werk uniek deur jou bediening, en jou getuienis!
Jy sal nooit kan bereken wat die Heilige Gees met jou bediening,
en jou getuienis, doen nie!
Die Here self gee dit vir jou, en die Heilige Gees self werk daardeur!
In 2 Timoteus 4:5 sê Paulus vir Timoteus om die pligte van sy bediening uit te voer.
Paulus sê aan sy jong vriend in die geloof om te doen waartoe God hom geroep het.
Timoteus het nie dieselfde opdrag van die Here gehad,
as wat Paulus van die Here gekry het nie.
Hy hoef ook nie so baie te vermag as wat Paulus vermag het nie.
Die Here vertrou Timoteus met dit wat Hy aan hom toevertrou het!
Nie meer nie, en ook nie minder nie.
Timoteus moet getrou in sy taak wees, of dit groot of klein is.
Of dit in die openbaar, of in die geheim is.
Of dit raakgesien word, of nie.
Hy moet dit net getrou en met toewyding doen.
God sien dit!

‘n Jong predikant het vir Spurgeon, die beroemde prediker,
gesê hy dink hy behoort ‘n groter gemeente te hê.
Hy verdien meer mense om na hom te luister.
Spurgeon het gevra hoeveel gemeentelede hy het,
waarop die jong predikant gesê het so ongeveer een honderd.
Hierop het Spurgeon gesê dit is reeds oorgenoeg mense,
om oor aan die Here verantwoording te doen!

Moenie die Here se roeping vir jou onderskat nie, presies daar waar jy lewe.
Doen wat jy kan, met wat jy het, vir hulle wie die Here oor jou pad stuur!
Dit is reeds baie groter as wat jy ooit kan dink!
Dit is wat die Here deur jou doen!

Ernest