‘n Lantern of kers kan in die nag vir jou lig gee,
wanneer die son dit nie kan doen nie!
Wanneer Jesus ‘n skare wil voed,
dan sê Andreas in Johannes 6:9 vir Jesus:
“Hier is ‘n seuntjie met vyf garsbrode en twee vissies;
maar wat is dit vir so baie mense?”
Min het hy geweet wat die Here daarmee gaan doen!
Twee mense het ‘n sendingbyeenkoms in London gereël.
Dit het eintlik heeltemal uitgereën.
Hulle het gewik en weeg of hulle dit moes kanselleer.
Uiteindelik het hulle dit gehou,
en net ‘n baie klein groepie mense het opgedaag.
Een man wat verbygestap het, en eintlik skuiling teen die reën gesoek het,
het ook in die lokaal gaan sit.
Hy het ‘n dringende oproep van die spreker gehoor,
vir mense om in Noord Amerika onder die Indiane te gaan werk.
Na die byeenkoms het die een persoon wat dit gereël het, vir die ander een gesê:
“Vanaand het ons beslis ons tyd gemors.”
Hy was verkeerd!
Die man wat eintlik net skuiling teen die reën gesoek het,
het sy lewe aan die Here toegewy as sendeling!
Hy het sy besigheid verkoop, en homself voorberei om onder die Indiane te gaan werk.
Hy het vir 35 jaar in Brits Columbia onder hulle gewerk as sendeling!
Dit is wat God doen met dit wat ons gering ag!
Of dit nou vyf garsbrode en twee vissies is,
of ‘n sendingbyeenkoms wat uitreën.
God doen dieselfde met jou eenvoudige dade wat jy aan Hom toewy!
Hy neem die bietjie wat ons het, en doen magtige dade daarmee!
Geen wonder nie, dat ons hierdie treffende vers in Sagaria 4:10 raaklees:
“Moenie die dag van klein dingetjies gering ag nie.”
Gee jou vyf brode en twee vissies….
Doen vir die Here wat jy kan, met wat jy het.
Hy doen groot, deur jou!
Ernest