Wanneer ons oor die sogenaamde geloofshelde in Hebreërs 11 lees,
dan sien ons hoe hul geloof getrouheid gevra het.
Henog het getrou geleef soos God dit wou hê, omdat hy geglo het.
Noag het getrou die ark bly bou, al word hy gespot, omdat hy geglo het.
Abraham het getrou gedoen wat God sê, en getrek, omdat hy geglo het.
Hy gaan getrou die berg op, om sy seun Isak te offer, want hy glo dat God sal voorsien.
Ons lees in Hebreërs 11:36 en verder hoe gelowiges getrou gebly het aan die Here,
ten spyte van bespotting, lyfstraf, gevangenskap, verdrukking, mishandeling,
en selfs dat hulle met hul lewens betaal het vir wat hulle glo.
Hulle het getrou gebly, ten spyte van wat ookal!
Matteus 24 en 25 praat ook van getrou aan die Here wees,
in ons afwagting op die wederkoms.
In Oktober 1983 is ‘n Amerikaanse vlootbasis in Beiroet gebombardeer.
Een jong Amerikaanse soldaat was baie swaar gewond.
Hy kon nie praat nie.
Toe Generaal Paul X Kelly hom in die hospitaal besoek het,
het die soldaat met groot moeite vir hom iets geskryf:
“semper fi…..”
Dit was ‘n poging om die vloot se slagspreuk neer te skryf:
“Semper Fidelis”.
Dit beteken: “Altyd Getrou”.
2 Timoteus 2:3 sê:
“Dra jou deel van die ontberings soos ‘n goeie soldaat van Christus Jesus.”
Ons is in die Here se weermag.
Ons sal ook hewige aanvalle beleef.
Ons sal ook swaar wonde opdoen.
Maar, ongeag dit alles, moet ons gertou bly tot die einde toe, tot die dood toe.
“Semper Fidelis”, altyd getrou,
behoort ook ons slagspreuk as kinders van die Here te wees.
Die bewys van ons geloof, is juis ons getrouheid!
Ernest