2 Timoteus 4:7 sê:
“Ek het die goeie wedloop afgelê;
ek het die wenstreep bereik;
ek het gelowig end-uit volgehou.”
Ons wedloop is nie om te sien wie kom eerste nie.
Ons wedloop is daar om dit klaar te maak!
Wanneer Jesus aan die kruis hang lyk dit skynbaar na ‘n nederlaag.
Maar Hy roep uit:
“Dit is volbring!”
Drie dae later is sy triomf bevestig wanneer Hy die dood oorwin.
Hy het die werk wat aan Hom opgedra is voltooi.
Bill Broadhurst het in 1981 vir die Pepsi Challenge oor 10 kilometer ingeskryf.
Dit was in Omaha in Nebraska.
Tien jaar tevore het hy ‘n aneurisme in die brein gehad wat sy linkerkant verlam het.
Hy het saam met 1200 ander hardlopers weggespring.
Moeisaam het hy in sweet en ongemak die wedloop in 2 ure en 29 minute later voltooi.
Daar was nog net ‘n klein groepie toeskouers by die eindpunt.
Maar Bill Rodgers, die wenner en baie beroemde atleet, was een van hulle!
Hy het sy goue medalje om Bill Broadhurst se nek gehang en gesê:
“Neem dit. Jy het harder gewerk as enige een van ons. Dit is die klaarmaak wat tel.”
Ons wedloop vir die Here is nie om te sien wie eerste kom nie.
Ons wedloop vir die Here is om te volhard!
Om getrou te bly tot die einde toe, dit maak ons wenners!
Dit gaan nie oor die begin nie, maar om klaar te maak!
Om gelowig end-uit vol te hou, sê Paulus in 2 Timoteus 4:7.
Ernest