In Markus 10 lees ons hoe Jesus, en sy dissipels, en ‘n skare mense uit Jerigo loop.
Langs die pad kry hulle ‘n blinde bedelaar met die naam Bartimeus, die seun van Timeus.
In Markus 10:51 vra die Here dan vir hom:
“Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?”…..
Hy het gesê: “O Leermeester, dat ek kan sien!”

In Jesus se tyd het blindheid net een ding beteken: armoede.
Jy is gedwing om ‘n bedelaar te word.
Genesing was nie moontlik nie.
Jesus sien Bartimeus se nood raak.
Hy laat hom sien, en verander so sy identiteit.
Van blinde bedelaar tot Jesus volgeling!
Volgeling wat kan sien, en die Here “sien”.

Helen Keller het gesê:
“Om blind te wees, is erg,
maar om te kan sien en nie te sien nie, is erger.”
In die toneelstuk, Our Town, van Thornton Wilder,
vra die 12 jarige Emily wat op die punt is om te sterf:
“Do any human being ever recognize life while they live it –
every, every minute?”

Mag ons waarlik die Here en die lewe “sien”, terwyl ons leef!
Wanneer die Here vandag vir ons sou vra:
“Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?”,
wat sal ons antwoord wees?
In die lig van die gebeure met Bartimeus hier in die Woord,
sit ons ook soos blinde bedelaars langs die pad?
Die antwoord is so duidelik te sien:
“Om U duideliker te sien, Here, U dieper lief te hê,
U nader te volg, en die ware lewe by U raak te sien, en te leef!”

Mag jy waarlik sien!.....en leef!

Ernest