Markus 9:49-50 sê in die Boodskap:
“Beproewing sal die soutkarakter van julle lewe versterk.
Sout doen goeie werk. Maar as dit sy krag verloor het,
hoe sal jy dit weer sout kan maak?
Julle lewe moet soutkwaliteit hê…..”
Wat ‘n treffende beeld!
Julle lewe moet soutkwaliteit hê!
In die antieke wêreld was sout ‘n waardevolle skaars artikel.
Jy kon selfs daarmee dinge koop.
Daarom gebruik Jesus sout as simbool om sy dissipels te beskryf.
Jesus het aan sy volgelinge wonderlike komplimente gegee,
om hulle sout te noem.
Sout gee smaak aan voedsel.
Sout werk bederf in voedsel teë.
Daarom sout ons biltong.
Sout reinig ook, soos by ‘n wond.
Kyk net hoe gou genees ‘n wond in sout seewater.
Voor die Jode iets geoffer het,
is die “sout van die verbond” daarop gegooi,
om dit aanvaarbaar te maak.
Jesus sê dus met hierdie beeld baie belangrike dinge aan sy volgelinge.
Vers 49 sê nou dat beproewings ons soutkarakter van ons lewe versterk.
Dink mooi oor wat Jesus hier sê!
Dit het ‘n enorme effek op ons hantering van beproewings.
God vorm ook deur beproewings aan ons soutkarakter!
Dit fokus ons op Jesus.
Jesusvolgelinge gee smaak, gee sin aan die lewe rondom ons.
Jesusvolgelinge het ook ‘n positiewe reinigingsinvloed op mense.
Hulle bring ook in die Naam van die Here genesing na mense.
Jesusvolgelinge werk bederf teë in die wêreld rondom hulle.
Jesusvolgelinge se soutkarakter maak ‘n groot verskil vir die Here in hierdie wêreld!
Om sout te wees, vra van jou om iets te doen in hierdie wêreld!
Jy laat dinge gebeur ter wille van die Here.
Sout beteken niks in die soutpot nie.
Moenie jou soutkrag verloor nie!
Dit moet uit, in die lewe van mense in!
In die omgewing in.
Dit werk waar dit gestrooi word.
Gaan leef jou soutkwaliteit uit in hierdie wêreld!
Ernest