Die kerk is werklik iets totaal uniek.
Dit kan eintlik met niks vergelyk word nie.
Dit is so besonder spesiaal!

Dietrich Bonhoeffer het gesê as jy die kerk met iets moet vergelyk,
toon dit die meeste ooreenkomste met die gesin, of familie.

In Matteus 12:46-50 lees ons wat Jesus hieroor sê.
Iemand sê vir Hom sy ma en broers staan buite en wil met Hom praat.
Dan antwoord Hy:
“Weet julle wie is my ma en wie is my broers?
Hy wys toe na sy dissipels en sê:
“Daar is my ma en my broers.
Elkeen wat aan die wil van my Hemelse Vader gehoorsaam is,
is my eintlike familie.”

Die kerk is nie ‘n besigheid, of klub, of organisasie nie.
Daar is nie status en rangorde nie.
Dit gaan nie oor prestasies nie.
Dit werk soos in ‘n familie.
Jesus kom stig sy kerk as ‘n nuwe, alternatiewe familie,
met ‘n nuwe familie-Hoof.
Met nuwe huisreëls.
Die wil van God.

In ‘n familie kry jy jou status deur geboorte!
In God se familie kry jy ook jou status deur geboorte: wedergeboorte!
Jy word ook nie uitgegooi as jy “onderpresteer” nie.

Jy het nie vooraf die keuse in watter familie jy in gebore word nie.
Ons word ook in die familie van die Here saamgevoeg met uiteenlopende mense!
Ons kan nie kies wie is in, en wie is uit nie.
Goddank!
Jesus sê nou dat die familie van God sy wil doen!
Ons lewe soos Jesus, as familie van Jesus.
Daarom het Paulus ook aan Timoteus geskryf,
“..hoe iemand hom moet gedra in die huisgesin van God,
want dit is die gemeente van die lewende God….”
Let weer op wat Jesus sê:
“Elkeen wat aan die wil van my hemelse Vader gehoorsaam is,
is my eintlike familie.”

Leef soos iemand wat behoort aan die huisgesin van God.
Hy is jou Vader.
Jy is sy kind!
Gehoorsaam sy wil.

Ernest