Markus 14:38 sê:
“Julle moet waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie.”

Daar is twee maniere om versoekings raak te sien, en te weerstaan.
Die een is gebed.
Wanneer jy oor die saak bid,
dan kom dit in die helder lig van God se teenwoordigheid.
Dan help dit jou om te onderskei of dit God se wil is, of nie.
Dan lei die Heilige Gees jou ook om dit te weerstaan.
Die tweede is om te waak.
Wat beteken dit om te waak?
Dit beteken om in die lig van die Woord van God op te tree.
Om met jou kennis van die Woord, te onderskei of dit God se wil is, of nie.

Dit is ook die voorbeeld wat Jesus aan ons gestel het.
In Matteus 4 lyk dit asof die eerste versoeking wat Satan oor Jesus se pad gebring het,
redelik onskuldig is.
Hy versoek Jesus om sy honger te stil.
Toe bring hy ‘n tweede versoeking, oor God se beskerming.
En toe ‘n derde, waarin hy Christus openlik uitdaag om hom te aanbid!
Maar Jesus het Satan se ware doel raakgesien.
Hy wou verhoed dat Jesus na Golgota gaan.
Hy wil verhoed dat Hy vir die skuld van die wêreld se sondes betaal.

Jesus het elke versoeking van Satan beantwoord deur uit die Skrif aan te haal.
Dit is om te waak.
Daarmee sê Jesus aan Satan dat Hy onder die outoriteit van die Vader lewe.
Dat Hy uit sy Woord en beloftes lewe.
Dit weerspreek radikaal die versoekings van Satan.

Waak dus met die swaard van die Gees, die Woord van God.
En bid daaroor in die lig van God se teenwoordigheid.
So sal jy versoekings kan weerstaan!

Ernest