Jesaja 41:10 sê:
“Ek is jou God.
Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas,
met my eie hand red Ek jou.”
Die Woord van God het groot krag om gelowiges te bemoedig.
Toe Jesus in die woestyn deur Satan versoek is, het Hy elke keer uit die Skrif aangehaal.
Hy het dit gedoen om Homself te versterk, en nie om Satan te intimideer nie.
Die Bybel laat geen twyfel dat Jesus, net soos ons, aan versoeking onderwerp was – Hebreërs 4:15.
Maar Jesus het nie aan die versoekings toegegee nie, en nie gesondig nie.
Hy haal nie tekste aan omdat daar magiese krag in die tekste is nie.
Hy doen dit om Homself te versterk, om die versoekings te weerstaan.
Die Woord herinner Hom daaraan dat God getrou is,
en dat Hy self getrou aan God se Woord en wil kan bly.
Jesus stel sy hele lewe onder beheer van God se Woord.
Daarom kan Satan Hom nie oortuig om daarvan af te dwaal nie.
Daarom kan hy Hom nie verhinder om sy Vader se wil te doen nie.
Wanneer ons getoets word, kan ons vashou aan God se Woord,
met die wete dat Hy getrou daaraan sal bly!
Of dit nou versoekings is, of vrees, of onsekerheid, wat ookal,
hou vas aan die Woord van God, waardeur Hy werk!
Deur die eeue heen is gelowiges gedra deur die Woord van God.
God is vandag nog net so getrou aan sy Woord, en tot in ewigheid!
Satan is nooit opgewasse teen die Woord van God nie.
Leef uit die Woord!
Ernest