Om goed te wees, beteken nie noodwendig om afhanklik van die Here te leef,
en in ‘n verhouding met Hom te leef nie.
Daar is baie mense wat goed leef, maar wat nie kinders van die Here is nie.
Daar is baie mense wat aanneem omdat hul optrede bo verdenking staan,
hulle saak met die Here ook reg is.
Die Bybel sê egter dit is moontlik om ‘n goeie morele lewe te lei,
sonder om op God te vertrou, of om Hom die eer te gee,
of om dankbaar teenoor Hom te wees.
Die Cheyenne is ‘n mensegroep wat in Amerika in sentraal Minnesota,
en in die noorde van Suid Dakota geleef het.
Hulle het baie hoë morele standaarde gehandhaaf.
Hulle was gematig, vrygewig, en selfbeheersd.
Hulle het in hegte gesinsbande geleef, met wedersydse respek.
Kinders het geleer om toegewyde, selfopofferende mense te wees.
Nogtans was hulle glad nie Christene nie.
Of, beter gestel, hulle het in geen verhouding met die Here geleef nie.
Want, selfs Christene neem aan dat hulle morele lewe bevestig,
dat hul verhouding met die Here in orde is.
En dit is nie so nie.
Om goed te leef, plaas jou nie in ‘n verhouding met die Here nie!
Goeie mense is nie noodwendig gered nie.
En ongeredde mense is nie noodwendig slegte mense nie.
Ons moet onsself ondersoek of ons in die geloof lewe!
2 Korintiërs 13:5:
“Ondersoek julleself of julle in ‘n egte geloofsverhouding met Christus staan.
Toets julleself. As julle nie daarvan oortuig is dat Christus in julle woon nie,
het julle die toets nie geslaag nie.”
Dit is waaroor dit gaan!
Enige mens kan ‘n goeie morele lewe in eie krag lei.
Ook nie-Christene, soos die Cheyenne, het dit reggekry.
Ons kan dit ook doen.
Maar dit is nie goedheid waaroor dit gaan nie, maar Gods-vrug!
Ongeag hoe mooi ons van buite mag lyk,
solank ons op onsself vertrou, en ons eie goedheid, en ons self die eer ontvang,
mis ons die punt, en die lewe!
Om God-vrugtig te lewe is om met jou hele lewe op God te vertrou,
om van Hom alleen afhanklik te lewe, om dankbaar teenoor Hom te lewe,
en om aan Hom alleen al die eer te gee!!
Ondersoek jouself, of jy in ‘n egte geloofsverhouding met Christus staan!
Gaan leef so die ware lewe!
Ernest