“’n Mens dink dalk alles wat hy doen, is reg.
Die Here besluit egter oor die bedoeling daaragter.” Spreuke 21:2.
Ons gedagtes word deur allerhande dinge gerig en bepaal.
Ons vooroordele, en eie beperkte insig in dinge, het ook ‘n groot invloed.
Ons gedagtelewe kan ‘n wêreld vol illusies skep.
Ons kan dinge baie eensydig beleef, of sien.
Navorsers het in ‘n navorsingsprojek mense voorsien van spesiale “prisma”-brille.
Hierdie brille het dan voorwerpe onderstebo voorgestel.
Dit het reguit lyne krom laat lyk.
Dit het skerp buitelyne met kleur omsoom.
Na slegs ‘n paar dae, het die meeste van die persone gesê dat die onnatuurlike vorme,
gekleurde buitelyne, en omgekeerde landskappe,
geleidelik begin verdwyn het.
Die wêreld het weer normaal begin lyk.
Die brein het die vals data wat deur die brille ingekom het, oorkom!
Dit is merkwaardig!
Hierdie aanpasbaarheid op die liggaamlik-sintuiglike terrein, is voorwaar ‘n groot seën!
Maar wat van wat ons dink?
Wat van hoe ons verstand op geestelike gebied funksioneer?
Ons dink dikwels iets wat ons doen is reg.
Maar is dit?
Spreuke 21:2 sê die Here besluit oor die bedoeling daaragter.
Baie mense blameer ook hulle omgewing, opvoeding, en ander mense vir hul optrede.
Hulle neem nie self verantwoordelikheid vir hul dade nie.
Hulle dink wat hulle doen is reg, en hulle sien nie hul eie selfsugtigheid en opstandigheid in nie.
Hulle regverdig eenvoudig al hul dade.
Alles wat hulle doen is reg in hul eie oë.
Die probleem is dat ons dit by ander raaksien, en nie by onsself nie.
Vra die Here om jou insig te gee in jou eie dade, wat jy dink reg is.
Hoe sien Hy dit?
Wat is die bedoeling wat Hy sien?
Laat die Heilige Gees toe om jou visie te korrigeer!
Met watter bril kyk jy?
Luister na die Woord van die Here, en na medegelowiges!
“Vra jou voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is.” Efesiërs 5:10
Die Heilige Gees gee, deur die Woord van God, aan jou korrektiewe lense,
sodat jy meer en meer soos die Here kyk, en soos die Here sien!
Ernest