Probleme, en mislukkings, en tragedies, kom oor ons almal se lewe.
Ons moet egter weet dat ons nie nodig het om dit ons hele lewe saam te sleep nie.
Moenie toelaat dat sulke dinge jou hele lewe lank jou volg, en jou treiter nie.
Wanneer jy deur bees- of skaapkampe loop, en die hekke agter jou ooplos,
het jy ‘n groot probleem om weer die beeste en skape terug te kry in die kamp.
Hulle loop dikwels agter jou aan.
‘n Boer wat op sy sterfbed gelê het, het vir sy kinders hierdie raad gegee:
“Terwyl julle deur die kampe van die lewe stap,
moet julle tog onthou om die hekke van die lewe toe te maak.
Moenie dat julle griewe en probleme, al agter julle aan, saamstap nie.
Moenie dit jul lewe lank saamsleep nie.”
Hierdie waarheid geld ons as gelowiges.
Wanneer ons opreg voor die Here ons sonde bely het,
Dan moet ons die hek daarop toemaak.
Dit is wat die Here doen.
Moenie die hekke weer oopgooi nie!
Wanneer iemand jou skade aangedoen het en jou seergemaak het,
vergewe die persoon, maak die hek toe, en stap verder.
Moenie onvergewingsgesindheid jou lewe lank met jou saamsleep nie!
Paulus het ook gesê dat ons die dinge van die verlede agter ons moet laat.
Ons moet ons uitstrek na dit wat voorlê,
dit wat die Here vir ons in die oog het.
Wanneer ons dit doen, is ons beter in staat om by die wenstreep te kom.
Paulus sê:
“Maar een ding doen ek:
Ek maak my los van wat agter is, en strek my uit na wat voor is.
Ek span my in om by die wenstreep te kom,
sodat ek die hemelse prys kan behaal,
waartoe God my geroep het in Christus Jesus.” Filippense 3:13-14.
Ernest