Gebrek aan selfbeheersing kan jou vernietig.
Met sekere siektes, is jou eetgewoontes so belangrik,
dat jou lewe daarmee op die spel is.
Dobbelary kan jou finansieël ruïneer.
Drankmisbruik kan jou gesondheid of jou lewe kos.
Ooreet is op die lange duur net so skadelik vir jou.
Pornografie verslaaf jou.
Alles dinge wat groot selfbeheersing vra.
Gebrek aan selfbeheersing het ook ‘n groot geestelike impak op mense.
So was dit met Simson gewees.
Hy het foute begaan in sy gebrek aan selfbeheersing,
wat daartoe gelei het dat die Filistyne hom gevange geneem het,
en sy oë uitgesteek het.
Sy val het begin met ‘n heidense vrou.
In Timna sien hy ‘n Filistynse meisie, en begeer haar.
Hy gaan vertel vir sy ouers dat hy haar wil hê!
Sy ouers vra toe vir hom:
“Is daar nie iemand tussen die mense van jou stam,
of onder jou volksgenote, met wie jy kan trou nie?” Rigters 14:3.
Hulle besef dit is teen die Here se wil dat Israel met heidene trou.
Daarom vra hulle vir hom:
“Moet jy nou onder die heidense Filistyne ‘n vrou vat?”
Simson het egter nie mooi daaroor gedink nie.
Hy begeer haar, en lê nie selfbeheersing aan die dag nie.
Simson het vir sy pa gesê:
“Kry haar vir my. Ek wil haar hê.”
Simson se selfsugtige selfbevrediging,
het uiteindelik tot sy ondergang en dood gelei.
Simson het ‘n slaaf van die sonde geword.
Hy het sy verhouding met Delila voortgesit.
Sonder selfbeheersing word ons slawe van die sonde,
sonder om dit eers agter te kom.
Jesus waarsku in sy eie woorde hierteen:
“Ek verseker julle, elkeen wat aanhou sonde doen,
is ‘n slaaf van die sonde.” Johannes 8:34.
Baie begeertes bring net tydelike plesier, maar verlies op die lange duur!
Dit is hoekom hierdie dinge dikwels so verslawend is.
Indien jy in ‘n verslawende praktyk vasgevang is,
moet jy daarmee in die lig van God se teenwoordigheid kom.
Jesus het ons kom vrymaak om waarlik vry te wees.
Moenie dat enige iets jou vryheid en vreugde in Hom steel nie!
Bely jou afhanklikheid van Hom om daarvan los te kom.
Ware vryheid word net daarin gevind “om ‘n slaaf van Jesus” te wees.
Hy gee aan jou selfbeheersing, as deel van die vrug van die Heilige Gees! Galasiërs 5:22-23.
Ernest