In Psalm 32:8-9 sê die Here:
“Ek sal jou onderrig en die pad wys waarop jy moet gaan.
Ek sal jou raad gee, my oog sal op jou wees.
Moenie redeloos wees soos ‘n perd of muil,
wat met stang en toom beheer moet word nie.”
Nou, dit is presies nie wat Israel gedoen het nie.
Hulle volg redeloos hulle eie kop,
nadat die Here hulle uit die slawerny van Egipte gelei het.
Omdat hulle weier om God te glo en te volg,
het hulle 40 jaar lank in die woestyn rondgedwaal!
In Josua 1:7-8 sê die Here vir Josua dat hulle nie links of regs moet afwyk,
van wat Hy vir Moses gesê het nie.
“Hou hierdie wetboek altyd by jou.
Dink dag en nag daaroor na,
sodat jy alles kan doen wat daarin geskryf is.
Jy sal dan sukses behaal op jou pad…”
Maar die Israeliete weier om dit te glo.
Hulle volg hulle eie kop.
Redeloos, soos ‘n perd of muil wat met ‘n stang beheer moet word.
‘n Bejaarde matroos het dikwels op die see koers verloor.
Sy vriende gee toe vir hom ‘n kompas geskenk.
Op sy eerste uitvaart daarmee, verloor hy toe weer koers, met kompas en al!
Hulle moes hom weer gaan soek en inbring.
Hulle spreek hom toe aan omdat hy nie die kompas volg nie.
“Ek kon dit nie waag nie”, antwoord hy.
“Ek wou noordwaarts vaar,
maar ek kon op geen manier die naald in ‘n noordelike rigting laat wys nie!
Die naald bly in ‘n suidoostelike rigting wys!”
Die ou matroos het hardkoppig homself geglo,
en nie die kompas vertrou nie.
Ons maak ook so met die Woord van die Here.
Dit is die kompas van die lewe.
Maar ons volg, soos Israel en die matroos, hardkoppig ons eie oortuigings.
So verloor ons keer op keer koers.
Dit kos Israel 40 jaar in die woestyn.
Iets wat hulle in ‘n week of twee kon doen.
Die Psalmskrywer belowe dat God die pad sal wys waarop ons moet gaan.
Volg die kompas van die lewe, die Woord van God, en hou op om jou eie kop te volg!
In Psalm 32:8 sê die Here nou weér vir jou:
“Ek sal jou onderrig en die pad wys waarop jy moet gaan.
Ek sal jou raad gee, my oog sal op jou wees.”
Wow!
Ernest