Jesaja 43:2 is seker een van die bekendste tekste hieroor.
Dat die Here oral saam met ons gaan, ook deur seerkry en probleme.
“As jy deur water moet gaan is Ek by jou, deur riviere,
hulle sal jou nie wegspoel nie;
as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie,
die vlamme sal jou nie brand nie.”
Die klem lê op die feit dat God by ons is!
Vers 4 sê:
“Omdat jy vir my kosbaar is,
omdat ek jou hoog ag en jou liefhet…”
en vers 5:
“Moenie bang wees nie, Ek is by jou…”
Die lewe is egter nie net swaarkry en seer nie!
Indien dit so was sou moedeloosheid ons oorweldig het.
Ons lees in Eksodus 15 dat Israel by Mara bitter water moes drink.
Drie dae lank trek hulle deur die woestyn en kry geen water nie.
En dan, bitter water. Daarom is die plek Mara genoem, bitter water.
Moses gaan soek hulp by die Here, en die Here is daar!
Die Here wys hom ‘n stuk hout om in die water te gooi, en dit is drinkbaar.
Toe het die Here hulle na Elim toe gelei!
Daar kon hulle heerlike water drink.
Daar was ‘n oase met 12 fonteine en 70 palmbome!
Hulle het daar kamp opgeslaan.
Die Here laat hulle daar bly.
Hulle kan daar rus in die teenwoordigheid van die Here.
Psalm 23:2: “Hy laat my rus in groen weivelde.
Hy bring my by waters waar daar vrede is.”
Beide situasies is verseker van God se teenwoordigheid.
Mara en Elim.
Die wolkkolom het hulle na beide gelei.
Wanneer God ons na Mara toe neem,
waar ons bitter water moet drink, en seer beleef,
moet ons onthou dat Hy ons ook die heerlike water van Elim sal laat drink!
Met vrede en rus onder die palmboom oase.
God se teenwoordigheid is deurgaans verseker.
Hy sal ook sy vertroosting en vrede bring, hier en hierna.
Wanneer ons die oase en bemoediging van Elim geniet,
moet ons bly wees en weet dat God ons toerus en voorberei,
vir die res van die reis saam met Hom.
Van Mara na Elim, na Mara, na Elim…!
“Moenie bang wees nie, Ek is by jou…”
Ernest